My beurt: Yolandi van den Berg
Word uitgeroep om 'n toneel by Café 101 te dek. Iets met onwettige sigarette te doen.

Kom daar aan, gerééd om foto’s te neem!
“Go away!” – Skree een. “You are not allowed to take pictures!” – skree nòg een.
‘n Ander storm verwoed op my af… “I am going to take your camera and break it if you take pictures!”
Dink by myself… daar is onlangs by my ingebreek… Voertuig gebuit… Rekenaar kwyt! Los my kamera uit!
Vra die polisielede op die toneel wat aan die gang is.
“No mam, just leave, you are not welcome here! Gó to the police station and ask to speak to the communications officer!”
Skielik stem álmal op die toneel soos een man saam… polisielede, Café 101 se personeel én omstanders:”Leave! There is nothing to see here. Take your camera and gó.”
Loop oorkant die pad, om ‘n foto vanaf ‘n afstand te neem.
Een van die winkel se personeellede gooi vir my ‘n middelvinger.

Lig my kamera dadelik om hom af te neem!
‘n Man kom met een stink spoed oor die pad aangestap en skree: “Don’t worry. I’ll grab her!”
Laat sak ewe my kamera.
Die man gaan staan ‘n ent weg en klim op sy selfoon.
Slaag daarin om ‘n paar skelmfoto’s te neem en loop so vinnig as moontlik na my voertuig, klim in en ry weg.
Gemengde gevoelens speel in my gedagtes af…
“Ek het foto’s vir my storie!”
“My kamera is in een stuk!”
“Sal my Chutney Puffs van nou af by ‘n ander kafee moet gaan koop…”.



