My Beurt – so onthou ek Kersfees
As kind was Kersfees groot opgewondenheid in ons huis. Veral as dit my ‘ma se mense’ se beurt was.

Hulle was vyf sibbe wat elk minstens drie kinders gehad het (almal min of meer op dieselfde tyd) so daar was baie niggies en nefies, tafels wat kreun onder die kos en ’n reuse hoop geskenke.
My ma se jongste broer was altyd kersfeesvader. Ek het hom (baie trots) een aand ontmasker deur hom aan sy leerplakkies uit te ken. Soos ons ouer geword het was kersfeesvader vergete en het ons konsert gehou vir die ‘grootmense’, dit was ’n helse gestryery wie Maria en Josef gaan wees en wie die donkie.
Toe ons nog ouer was, het ons gesin heelhartig besluit dat ons gaan wegdoen met die kersboom. Dit was van die begin af vir my ’n lelike gedoente. My ma het toe ’n Dawidster uit hout gemaak waarom sy liggies gedraai het.
Nadat ek my eie huis se ‘ma’ geword het, was daar aan die begin ’n halfhartige poging om iets blinks op te hang in Desember wat ek toe later sommer heeltemal laat vaar het. Daai stringe blink goed wat lyk asof dit uit ’n unicorn se agterent uitkom, was nog altyd vir my lelik.
Dit was tydens ’n interessante geselsie, met ’n interessante persoon, wat ek besluit het om te begin ondersoek instel wat weer daartoe gelei het dat ek besluit het om glad nie meer kersfees te vier nie. Ek weet baie mense weier blindelings om te oorweeg dat die geslagtelange tradisie dalk nie sulke eerbare wortels het nie, ander sê ek soek die duiwel in elke ding.
Ek dink beslis nie almal wat al ooit kersfees gevier het gaan “warmplek” toe nie. Ek wil ook nie my besluite in ander se kele afdruk nie, maar ek wil tog, al is dit net vir een persoon om self te gaan ondersoek instel, verduidelik hoekom ek so besluit het.
•Die 25ste Desember is nie die Messias se geboorte nie. (Niemand is seker wanneer Hy gebore is nie. As dit so belangrik was sou dit seker êrens gestaan het?) Mid tot einde Desember is wel ’n heidense fees wat lank voor die geboorte van die Messias gevier is. Gedurende die fees was daar groot gesamentlike etes gehou en geskenke uitgedeel.
•Christene het dit dalk gevat en hul eie gemaak, maar daar is te veel simboliek wat nie Bybels is nie: die kersboom, die kenmerkende rooi, wit en groen kleure, die ronde tak sirkels wat almal orals ophang of om die mosterd-ring op die etenstafel sit…
•Amper al die simboliek wat ek altyd aan God gekoppel het, soos die liggies vir die Lig van die wêreld, die rooi van Sy bloed, was reeds ingestel vir daardie fees, voor dit Kersfees genoem is, deur mense wat nie in Hom glo nie. Welwillendheid, liggies en kerse en die ‘gees van kersfees’ het alles te doen met die vieringe van ’n ander aard, waar die draai van die seisoen en die ‘geboorte’ van die nuwe son gevier is. (The birth of the sun nie The Sonnie).
•Ek het besef dat daar duidelike instruksies in die Bybel is wat ek vir een of ander rede mislees, grotendeels omdat ek die helfte van die Bybel bloot as verwysing vir geskiedenis, Dawid se mooi Psalms en ’n giggel vir Hooglied se verwysing na ’n vrou se borste as twee lammers, gesien het.
Ons word uitdruklik gewaarsku om nie heidense feeste te vier nie (dit tel nie net vir die obvious Halloween nie). Tog ken ek al die feeste (Kersvader en die Paashaas en Valentynsdag) terwyl ek geen idee het van die Bybelse feeste nie.
•Dit is maar ’n tameletjie as meeste van jou familie aandring om Kersfees te vier en selfs vir jou woedend raak omdat jy nie wil nie. Ek het nog nie alles uitgewerk vir myself nie, ek gaan steeds saam met my man waar hy gaan. Ek besef dat ek nie tot die besluit gekom het wat ek nou het, deurdat iemand met my gestry of baklei het nie, so ek probeer om nie met ander te stry of baklei nie.
Ek stap die pad dag vir dag, ek glo en vertrou, dat soos wat daar voorspel word, meer en meer mense terug na die Woord sal keer in die eindtye.
•Hopenlik kan my kind eendag, as hy oor sy “Kersfees herinneringe” moet skryf soos ek nou, net mooi niks daarvan onthou nie. My wens is dat hy eerder vertroud moet wees met Yom Teruah (Fees van Tabernakels) en Yom Kippur (Dag van Versoening) en dat daar baie ander sal wees om dit saam met hom te vier.


