
•Kom ons begin sommer by die een wat ek met ’n glimlag onthou. Desjare het ons in Waterval-Boven gebly en het my pa elke jaar met ’n boom (wat hy natuurlik iewers ‘gekoop’ het) by die huis aangekom.
’n Regte egte Denneboom, wat tot Ma se ontsteltenis, sy dennenaalde in haar skoon sitkamer kom mors het.
Daardie een jaar het pa oorboord gegaan en met ’n boom daar aangekom wat almal aan moes help dra. Nodeloos om te sê, die boom was te groot, in by die deur, uit by die deur.
Kap ’n stukkie af. In by die deur, uit by die deur, nóg ’n stukkie af!
Wat ek wel onthou van daardie jaar, is die punt wat teen die dak geraak het, daar waar ons opkyk na die ster, en Pa wat onder die boom sit en ons vertel van die ster wat die wyse manne na Jesus in die krip gely het.
•Dan was daar die keer, ek was seker so ’n dogtertjie van 12 jaar, met ons familiesaamtrek. Nou kyk, ons is baaaaaie groot familie.
Ouma hulle was 13, toe is Ma-hulle sewe dogters en dink net hoeveel kinders, kleinkinders en agterkleinkinders en hul aanhangseltjies was daar!
Die saal was groot en daar was dié keer plek vir die groot boom.
Alhoewel daar liggies aan die boom was, was daar nie ’n Kersvader en lawwigheid nie. Oom Jack en oom Tielman het ons begelei en “Stille Nag” het heeltemal anders geklink as op enige ander plek.
Op ’n gerieflike stoel het ouma Hannie gesit met die stapel vierkantige boksies en vir elke kleinkind sy Bybel gegee. “Aan Daleen, van ouma Hannie” en die res van haar persoonlike boodskap, wat Pa met sy sierskrif vir elkeen geskryf het. Daardie Bybel, wat se blaaie al vergeel langs my bed lê, met elke more se nuwe Boodskap.
•Kersfees op die plaas saam met Ma en Pa en hul stringetjie kinders, kleinkinders en aangetroudes.
Daardie jaar was daar nog nie krag nie en het ons by lampe en kerse elke aand gekuier.
Oukersdag het die jonges opslag besluit, daar moet ’n boom wees met blink goedjies, maar niemand het gedink aan Kersversierings nie.
Die jonges kan mos ’n plan maak en teen drie-uur die middag was die seuns terug met ’n boom met sulke vreemde, lang takke.
Ouma se rol foelie is in stukkies gebreek en elkeen het opdrag gekry om iets te maak wat deur die kinders aan die takke vasgemaak is.
Daardie aand, met die stilte binne en buite voelbaar, het kerse van die foelie liggies gemaak en ons almal die Boodskap van Jesus se koms weer ons eie gemaak.
•Kersfees as ouers saam met ons kinders, is iets wat jy elke jaar in jou hart bêre. Oukersdag is óns dag. Of dit nou potjie of braaivleis, koekerasies of ander eetgoed is. Daar word gekuier asof ons nog nooit saam gekuier het nie.
Om dan middernag die gewyde oomblikke saam te wees met daardie spesiale drukkie en: “Geseënde Kersfees my kind.”
•En natuurlik, elke jaar, as ons tuis is, is ons almal by die Kerk om die die ware betekenis van Kersfees en Sy koms na die wêreld te herdenk. Want dit is eintlik waaroor dit gaan.
Die Koning van konings wat in ’n krip gebore is en aan ’n kruishout vasgeslaan om al ons sondes op Hom te neem en op te vaar na die Hemel, waar Hy vir ons wag vir die wederkoms.
Aan elkeen wat hier lees: Mag dit ’n ware Christusfees vir jou en jou familie wees.


