BlogsEditor's noteOpinion

My Beurt: Johann Gresse

Het die afgelope ruk 'n paar dinge gedoen wat vir my heel moeilik was. En nee, dit was nie kos maak of wiskunde nie.

• Op binnebande die Klein Olifantsrivier afgejaag.

Dit het verlede Desember taamlik woes gereën en die blink plan is beraam om op binnebande die Klein Olifantsrivier te trotseer. Na een hewige reënbui, is daar besluit om op ‘n Sondag na kerk die magtige waters aan te vat.

By 4SAI se laagwaterbruggie aangeland, het daar ‘n taamlike groot verrassing op ons gewag. In plaas van die verwagte sterk rivier wat soos ‘n reuse mamba deur Middelburg kronkel, het ‘n bruin, amper huisslangagtige, stroompie ons begroet.

Maar ons elkeen het R100 vir ‘n binneband betaal en tube ry sal ons tube ry.

Ek was egter bekommerd. ‘n Bruin rivier is ‘n vuil rivier in my oë en ek het vir siektes soos cholera, bilharzia en ander watersiektes (soos waterpokkies) gevrees.

As mens lank is, is diep waters nie so diep nie. Dié redenasie beteken egter ook dat vlak waters ékstra vlak is en die magtige Klein Olifants het vreesaanjaend en onheilspellend teen my enkels gevloei.

Na sewe meter se gedobber het ek nóg ‘n probleem ontdek. Het die kleinste binneband gekies en het letterlik soos ‘n oorgewig skilpad in ‘n te klein dop gelyk.

Met ander woorde, ek was nie baie vaartbelyn nie en waar die ander taamlik maklik oor die klippe gegly het, het my band teen elke blêddie klippie gebots.

Na ‘n uur se gesukkel (ons het seker 30 meter gevorder) het die water skielik warm geword. Soos badwater-warm. “Jip Gresse, jy het nou cholarzia (‘n kombinasie tussen cholera en bilharzia)!” is daar vrolik vir my gesê.

Om ‘n binneband-ontdekkingsreisiger te wees, moet jy hare op jou tande hê. By Meijersbrug moet jy vir kondome en geroeste winkelwaentjies koes, terwyl ‘n paar slange ook binne skrikafstand verby ons geswem het. Ons het ook skielik van die krokodil onthou wat ‘n paar jaar terug daar gekamp het.

Net voor die brandweerstasie het ons uitgeklim.

Seker ‘n kilometer getube. En dit het ons vyf ure geneem…
• Die park run.

Sonder om op te warm (in my krieketdae het ons altyd gedraf om op te warm; waarom moet jy dan opwarm as jy gaan draf?) het ek stiptelik om 08:00 een Saterdagoggend vir die park run by Glen Cullen weggespring.

Vir die eerste vier kilometer was ek en my draftjom onder die voorste drawwers en dinge het goed gelyk. Die roete is lekker uitgewerk, daar was eende op die plaasdam en die meisie wat voor ons gehardloop het, het nogal ‘n mooi draf aan haar gehad.

Toe ons egter daardie onverwagse bergreeks op die vierkilometerkerf tref, het die rustige waters van die plaasdam verdwyn en danksy die sweet wat in my oë begin drup het, was Meisie-Met-Die-Mooi-Draf net ‘n lugspieëling wat oor die horison verdwyn.

Ons het onderskeidelik agtste en negende geëindig uit 117 drawwers. As dit nie vir Mount Everest op die vierkilometerkerf was nie, sou ons die ding gewen het. Of dit is wat ek eendag vir my kleinkinders gaan vertel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button