Vyf voertuie bots
Vyf voertuie was Maandagmiddag op die Hendrinapad, naby Rockdale, in 'n kettingbotsing betrokke, na 'n vragmotorbestuurder bo-oor 'n stopstraat gery het. Niemand is gelukkig ernstig beseer nie.
Volgens die bestuurder van een van die voertuie, mnr. Koppeschaar Botha, was die vragmotorbestuurder in ‘n wit Nissan vragmotor van Imperial Tipper Resources in die rigting van Middelburg op pad.
‘n Silwer Nissan Navara en twee wit Ford Rangers het in ‘n ry in die teenoorgestelde rigting van die vragmotor by die stopstraat op ‘n rybeurt gewag.

Nog ‘n vragmotor, van Buco in Middelburg, was besig om by die T-aansluiting, (by die laaste pad wat by die N11 hoofweg inkom), regs te draai toe die Nissan trok na bewering van links oor die stopstraat ry en hom in die draai tref.
Die Nissan vragmotor se sleepwa het omgeswaai en die Navara, en twee Ford Rangers, getref.
‘n Toyota Hilux bakkie, wat agter die Ford en Nissan voertuie gestaan het, het sonder enige skade van die voorval afgekom.
Die bestuurder van die vragmotor, wat na bewering die ongeluk veroorsaak het, het tydens ‘n telefoniese onderhoud gesê dat hy nie ‘n waarskuwingsbord voor die stopteken gesien het nie.
Hy het die telefoon in ‘n joernalis van die Observer se oor neergesit toe sy hom vra wat sy naam is.



