Flop
•Nou goed dis ’n ou grappie, maar hoe weet jy ’n man is oud? Jy sien dit aan sy hol, hy hol al stadiger. Saterdag kon jy aan die Bokke se sing sien hulle is nie lus nie.

Die Walliesers het uit volle bors laat waai, terwyl die Bokke gelyk het soos ons wat in standerd vyf moes sing vir ’n plek in die koor. Die liedjie was die Blinkvos Perd: “O, ek het ’n perd, ’n blinkvos perd en ek kom om jou te haal…want jy het gesê, as ek jou wil hê…”.
En toe mompel ons: “Ho hettek ’n pert ’n blinkvos pêêêrd, en ek kom om jou te hááál, wantjyhette gesê, as ek jou wil hêêê…”. Want sien, die koor het grootpouse geoefen en grootpouse was ons belangrikste rugbywedstryde.
Nie een van Manie Horn en sy boetie Adriaan, Neels du Toit, Derick van der Merwe en die res van die span, het ooit die koor gehaal nie.
•Laat weet Lammie Engelbrecht die krag was meer opwindend as die rugby. Op die selfone het dit so gegaan: “Die krag is af, die krag is aan, die krag is af, die krag is aan, die krag is…”.
•Gee my krag! Vir Jan Potgieter was die spanning van beurtkrag een te veel. Kanonkop en Dennesig se beurt was tot vier uur en die afskop was half vyf. Sou die munisipaliteit vertrou kon word om die krag betyds aan te kry? het hy gewonder.
•Dankie tog! Die Bulle het pragtige blou truie vir die Superreeks en ’n bul se kop op die kant. In hulle persverklaring oor die truie sê die Bulle: “The positioning of the Bulls head on the men’s replica jersey is different to that of the women’s and kids jersey, so that when the Bulls family is walking side by side, the full head of the Bull is visible.” Wanneer die Bulle kringetjie maak, gaan dit pure lyk soos ’n bultrop. (Geen bul blerts volgende jaar nie).
•Die Haaie se truie het glo ’n see-effek en wanneer hulle kringetjie maak gaan dit lyk soos Finding Nemo. (Under the sea!).
•Die Lions gaan ’n verlangende leeu op sy bors kry, amper iets soos Lion King wat na die beloofde bekers tuur.
•Siestog, die Tjietas sal weer iets oranje hê, pêpoen!
•Daar is Vrydagaand in die nag gehol. Kry ons ’n foto van die organiseerders wat sê “hier kom al die flitse”. Behalwe al die flitse het ons ook ’n paashaas en die tandemuis op die foto uitgemaak.
•Jy kry manne wat erg is oor visvang en jy kry manne wat erg is oor gholf. Wanneer jy sien hoe staan ’n man en swaai en swaai op die grasperk voor die koshuis, daar langs Samora Machelstraat, dan weet jy hy eet en slaap gholf. Moet dalk sy naam verander na Hendrik Swaaiepoel.
•Middelburgers net waar jy kyk. Staan Donderdagaand in Pretoria by Henning Gericke se boekbekendstelling, toe die jong uitgewer van BK Publishers homself voorstel: “Benoit Knox!” Dink toe, vanwaar dié Fransman? En toe stel sy vrou haarself voor: “Antoinette”. “Ek is ’n meisie van Middelburg en het met die Observer grootgeword”.
En daar skuur Gerhard Swarts skouer met Cameron van der Burgh. Ria Joubert, wyle dr. Leon, se vrou staan nader. En daar is oud Middie Stefanie Gericke. Seg mev. Knox: “Ja-nee, ons Middelburgers maak ons merk oral waar ons kom”. So waar mev. Knox, so waar.
•Gaan ons die naweek beurtkrag bekruip doen? Dis nou amper soos pub crawling. As jou krag af is gaan kuier jy by jou vriend in Aerorand, as sy krag af is ry julle na Dennesig toe en so kuier julle agter die krag aan.
•Nou goed, so groet ons die jaar, al sy floppies, sy vreugdes, sy kwotas, die Bulgespot (Met die spotters sal daar volgende jaar gespot word), besmerings (Soos oom Jan Botha sou sê), sport bly koning, mooiloop My Kroon, Hamba Kahle, tot volgende jaar, nou gaan Pappa eers bietjie rus.



