BlogsOpinion

My Beurt – Kersfees alleen

Ek is seker daar is ander mense soos ek daarbuite wat verkies om oor Kersfees alleen te wees.

Ek het geen probleem met families wat Kersfees saamtrek nie.
Kyk, Kersfees is lankal nie meer wat dit moet wees nie. Dit gaan oor die beste geskenke en die tafel wat die hardste kreun onder die kos.

Dit is eintlik maar net ’n dag vir kinders om hul fantasiewêreld vlerke te gee.

Persoonlik verkies ek ’n stil kersdag by die huis sonder hope familie vir wie ek moet bontstaan. Eerstens gaan my huishoudster, die engel Johanna, boos wees as ek onthaal, want ek was nie skottelgoed nie.

Johanna beaam wat ek sê, natuurlik. Oud en wys soos sy is, sus ek haar moederlike hart deur nie oorboord te gaan nie. Met ’n paar DVD’s reg, bly net die maaltyd oor.

Ek deel graag my resep (en my kollega Sjani sal voorwaar my lof besing!).

In een oondpan moerby ek ’n pakkie OK gerookte kaasworsies, OK beessosaties, hoendervlerkies en varkrepies alles deurmekaar.
Voeg jong aartappeltjies by, ’n pakkie knopiesampioene en so twee uie in kwarte gesny, en bak die lot vir so twee ure onder foelie.

My buurvrou Makkie, my beste vriendin, eet nie vleis nie en so waarborg ek my kwota van een bord, een mes en een vurk vir ou Johanna.

Nee sy gaan natuurlik nie Kersdag werk nie, dis mos familietyd en by Johanna word daar sommer tent opgeslaan vir die okkasie.

Ek gun haar dit. Ek soek dit net nie vir myself nie. En dis my Kersgeskenk aan Johanna. Ek kan seker aan ’n paar ander argumente ook dink om my punt te staaf, maar die een is die lekkerste.

Lekker Kersfees hou Johanna!

En mag die hele dorp en ons mense ook hul Kersfees geniet, familie of nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button