BlogsEditor's noteLettersOpinion

My Beurt: Jana Boshoff

Die dagboek van ’n vet meisie: Ek wou dit al lankal begin het.

Ek moet erken, ek het myself nog nooit as ’n gesondheidsbewuste gesien nie, my lengte het nog altyd gehelp om die breedte effe te verdoesel.

Ek glo vas die genot wat mens put uit lekker kos, en natuurlik die kuier wat daarmee gepaard behoort te gaan, baie swaarder weeg as ’n fietse lyfie in ’n 32 denim of ’n paar waarderende oë van vreemdelinge wat jy nie eers ken nie.

En daarmee kom die penarrie – die swaarder weeg.

Alhoewel dit dalk figuurlik gesproke so mag wees, is dit ongelukkig ook letterlik van toepassing.

Want dit is lekker om met oorgawe te verkondig as jy in jou winterbaadjie agter jou rekenaar sit en tik, of saam met vriende om ’n tafel kuier en lag en die een pampoenpoffertjie na die ander verorber dat gewig maar net ’n nommer is en dat die waarde van ’n goeie sjokolade die vetjies waarmee jy later sit ver oorskrei.

Dis minder lekker as jy sukkel om daai rol wat bly ‘uit-pop’ oor jou denimbroek weg te steek.

Nog swaarder om of vir jouself te probeer wysmaak dat jou sprankelende persoonlikheid en al die goeie herinneringe wat jy al vurk in die hand en sous om die mond bymekaar gemaak het genoeg bestandele vir jou geluk is terwyl jy jou somersklere aanpas en agter kom die helfde het onverklaarbaar gaan staan en krimp terwyl hulle in die spaarkamerkas gestoor was.

Toe ek nog in die stad gebly het was gimnasium toe gaan nie ’n probleem nie. Spitsverkeer dwing jou om te kies tussen baie vroeg ry en dan ’n uur wag vir jou kollegas om op te daag of laat by die werk wees.

Ek het die eerste opsie gekies en dan sommer ’n bietjie gaan oefen. Die moontlikheid dat jy in iemand bekends kon vasloop, ek het al my naam gat gemaak op ’n treadmill langs Roland Schoeman, het natuurlik gehelp om my te motiveer.

Maar daardie dae is lankal vergete. Ek ry nou in vyf minute werk toe, dra nie meer hoë hakskoene nie en gebruik my trapmeul om my joga bal op te balanseer.

Alhoewel ek geskuif het van die malle gejaag in die stad na die kalm platteland, het ek bloot net nie meer die tyd of energie om aan oefen te dink nie.

Vir die eerste maal in my lewe besluit ek om ’n dieet te oorweeg. Ek sukkel want ek kry nie een waar die spyskaart ’n glas wyn en sjokolade insluit nie. Besluit toe maar op die kortste een – sewe dae. Sewe dae kan nie te erg wees nie.

Maak vir my die sop. Jy mag die sop enige tyd eet. Dit proe nogal nie te sleg nie. Besluit om maar ’n bakkie van die sop te proe, net om seker te maak ek sal die volgende dag as my dieet begin daarmee tevrede wees.

Dag een – ek mag net vrugte en sop eet. Dit gaan nie te sleg nie, ek vermoed ek sal dalk nog bietjie sop moet maak vir die volgende dag. Dit is nou tot vriende bel en vra of ons nie daar wil kom braai en rugby kyk nie.

Ek vat ’n lekker stukkie vleis en pak vir my “lite” wyn in. Sal maar more die volgende dag weer begin met die dieet.

Dag twee – hier gaan ek weer. Sop is amper klaar, sal voor die einde van die dag weer moet maak. Toe word ons uitgenooi om saam met familie te gaan eet om ’n verjaardag te vier. Ek sal maar more weer met die dieet begin.

En so is ek dit eens, lekker kuier saam met vriende of familie weeg nou maar eenmaal net swaarder in my boek as die nommer op die skaal. Gee op met die dieet.

Trek nou die dag ’n denim aan wat ’n vriendin vir my gegee het. Hy is ’n nommer te groot maar al my klere is vuil.

“Het jy gewig verloor” vra iemand wat my sien. Ek glimlag. Ek het my oplossing gekry vir my dieet penarrie, ek trek van nou af net bietjie groter klere aan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button