My Beurt: Yolandi van den Berg
Woon Woensdag joernalis-alleen 'n seminaar by Riverside Estate by, omsingel deur onderwysers. Lag toe daar 'n grappie oor woordgebruik gemaak word. Kyk om my, niemand lag saam nie.

Toe duik daar ‘n skielike noodgeval op. Gryp my kamerasak, handsak, notaboekie en sleutels, reguit kar toe. Druk die voertuig se afstandbeheerder drié keer voordat die kardeur oopgaan…Dink by myself…ek en die kar verstaan mekaar glad nie. Hy is seker nog kwaad vir my na die optog voor die banketsaal waar ‘n betoger ‘n duik in haar kap geslaan het…wat nou nog nie reg gemaak is nie!
Pluk die agterdeur oop, gooi ALLES insluitende die sleutels in my besit op die sitplek neer. In die toemaakproses dink ek in stadige aksie : “Nééé! Waaaaaaaaaat dooooooen jjjyyyyyy……??!!….”
En BLIEP! Daar sluit al die deure.
Na ‘n sug dink ek, “leer ek nie my les nie?”
Toe my man verlede jaar in die buiteland was, het so te sê dieselfde voor die Midwater Spar gebeur. Toé het die sleutels in die kattebak beland en was daar nie ‘n man, wat soos Woensdag bereid was om al die pad van Kriel af te ry, om vir sy vrou die spaarsleutel te bring nie. En ja, dis waar wat hulle sê, die klein venstertjie is die duurste…



