BlogsEditor's choiceOpinion

Video: Flopsport – Victor Galindez vs Pierre Fourie

•Ry Saterdag van die Koro Creek Gholflandgoed af huistoe, Modimolle na Middelburg. Radio 2000, reg om lekker rugby te luister. As jy groot geword het met Heinrich Marnitz en Gerhard Viviers, verwag jy vlymskerp rugby kommentaar. Wie sal nog Syd Nomis se drie teen die All Blacks vergeet en Viviers se: "Syddie, Syddie, Syddie..."?

Ja, party ouens het later gesê gelukkig was dit nie Piston van Wyk wat gedruk het nie. ‘n Man met die naam Mac Masina saai uit.

Mac is nie op sy bêk geval nie. Maar dit klink of Mac eers op Stellenbosch se wynlandgoed was, voordat hy Nuweland toe is. Die Chiefs word die Cheetahs, Kobus van Wyk verander na Van Dyk en Louis Schreuder word Schneider. Die beste was Vincent Koch wat so tongklap genoem word: “Vincent Kotch!”. (Dit was om van te Kotch).

•Jy kry ouens wat hulle bloediglik kan vererg vir ‘n ref. Saterdag was ‘n ou so kwaad vir die skeidsregter in die Lions en Crusaders wedstryd, dat hy laat weet: “Wie is daai psigopaat met die fluitjie in sy bek”. (Mens moet deesdae meer kwaad wees vir daai ou in die aapkas…of is dit die aap in die ou se kas?).

•Skielik sak daar ‘n doodse stilte oor die Kaap toe. Die brande is geblus en so ook hulle rugbylus. Selfs die Man van die Bazaar se boodskappies het opgedroog. Big Chief no talk.

•En ‘n Bul raak heel filosofies:

Drive for show, putt for dough.

Scrum for show, score for dough.

Vincent het gescrum for show, but lost the dough.

•Wie weet daar is ‘n Pikkie Coetzeebrug? Daar is een in John Magagulastraat. Die dorp se voorste rugbyafrigter het nooit die eer gekry wat hy verdien nie. Daarom is dit mooi dat daar nou ‘n George Claassen saal is, Dolf Jonker klubhuis en die nuutste: ‘n Poerie van Rooyen onthaalsaal. (Stronkies, is daar al iets na jou vernoem?).

•Weet van een ou op die dorp wat baie maatjies gaan bykry. Hy het ‘n losie op Loftus gekoop. Natuurlik sal ons nooit sy naam bekend maak nie, want ons wil sy enigste maatjie wees.

•In die dae toe rook doodsonde was, was tatoeërmerke ook van die duiwel. Nou spog leerlinge met perkament rolle van die kroontjie tot die toontjie. Soos ou Louis Steyn altyd sê: Dit lyk asof hulle met ‘n nat comic geslaan is. By Middies se eerste span is die inding jou van en jaartal daaronder, aan die binne-arm. (Hoop daar speel ‘n Van Moerkerken. Jy kan dan ‘n moer en kerk langs mekaar tatoeër).

•Die jaar 1976, Hoërskool Patriot word geopen, groot storie, sit daar as nat-agter-die-ore-verslaggewer, toe die goue gedenkplaat onthul word. ‘n Reus het by Generaal Hertzog afgestig, is gesê. Deesdae gaan dit sukkel-sukkel by Hertzog én Patriot én die meeste Witbankse skole. Die reuse is op Middelburg. Net Saterdag het Patriot se eerste rugbyspan met 64-3 teen Kanonkop verloor, wat eintlik nog ‘n baba is. (Respekte vir Ben Viljoen wat nie in vergetelheid verdwyn het na 1994 nie, maar ook steeds sy man staan. By dié skool word iets reg gedoen).

•Ag nee tannie! Van professionele rugbyspeler na loodgieter. Jou standaarde val in Tshwane. Tannie Manda Reyneke, van Deon Helberg-faam, is weer in die nuus, die keer oor ‘n loodgieter en ‘n lekkende kraan, ek bedoel. (Ag sies, is dit in sy lies? Die ergste is dat hulle stry wat beeld die nuwe jongman in haar lewe se tatoeërmerk uit. Tannie Manda sê sy weet die plumber het ‘n tatoeërmerk van ‘n “klein perdjie” in sy lies. Dis iets wat lyk soos ‘n pyltjie, maar dis ‘n anker sê hy, en dis beslis nie in sy lies nie, maar op sy bekkenbeen).

•Wie sal Pierre Fourie se gevegte vergeet. Daai teen Bob Foster en Victor The Animal Galindez? Pierrie was ons held. Al het hy nooit die wêreldtitel kon wen nie. Saterdagaand was daar weer boks uit die boonste rakke soos in Fourie se tyd by Emperors Palace. Tommy Gun Oosthuizen het gefloat soos ‘n butterfly en gesting soos ‘n bee teen Ryno The Lion Liebenberg. Na die tyd was hy ene Muhammad Ali: “The Lion sleeps tonight” het hy gespot.

•Oosthuizen se afrigter is Harold Volbrecht. Volbrecht het in 1976 sy diensplig by 4 SAI gedoen, maar was skaars ‘n maand hier, toe is hy weg om te gaan boks. Volbrecht se woorde in die laaste rondte Saterdagaand was klassiek. Nadat Oosthuizen die Lion reeds goed pakgegee het, was Volbrecht se advies uit die hoek: “Bliksem hom bietjie”. (Oosthuizen het seker gewonder: “Wat doen ek dan vir twaalf rondtes?”).

•Gedink net rugbyspelers het snaakse name soos Boerpens Strydom, Ghriespomp van der Merwe, Domkrag Erasmus en Vleis van Zyl. In Middelburg Buiteklub se Geslote Kampioenskappe was daar Sparky Gravett, Chicken Gaarkeuken en Kat van Wyk. O, ja, daar is ook Oom Zulu op die stoep.

•Dat ‘n Hasie en ‘n Horn ons nou op die krieket wêreldbeker se wenpad moes sit! (Nou stik onssie meer nie en Quinton verander van Quinton de Choke na Quinton de Rock).

•Terug na Koro Creek: Vat Midlands, sit hom rondom ‘n top gholfbaan met puik restaurant, voeg ‘n klein wildtuintjie by en jy het hemel op aarde, dis Koro Creek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button