Puk student sterf onverklaarbaar
'n Oud-Hoër Tegniese Skool leerling en onderwys student by die Potchefstroom Universiteit is vroeg Woensdagoggend onverklaarbaar dood.
Hanré Van Zyl (23) is met sy aankoms by die hospitaal in Potchefstroom dood verklaar. Hy het inmekaar gesak net nadat hy sy hande in die lug gegooi en aan sy vriende gesê het: “Dankie vir ‘n lekker tyd!”
Hy, saam met sy boesemvriend Jurie Swanepoel, ook ‘n oud-leerling by HTS, en nog ‘n vriend Jeandre (van onbekend) was tussen 01:00 en 02:00 oppad terug van Klerksdorp af Potchefstroom toe. Hulle het die aand vir die laaste keer uitgegaan, voordat hulle vandag (Vrydag) ‘n groot toets sou skryf en om ‘n sielkunde vraestel wat hulle deur is te vier.
“Jurie en Jeandre het langs die pad probeer om sy hart weer aan die gang te kry, maar hulle kon nie,” vertel Handre se ma, Ronel.
Sy ouers, Andre en Ronel van Zyl, is tans in Potchefstroom waar hulle wag vir die nadoodse ondersoek voordat daar reëlings getref kan word om sy liggaam terug te bring na Middelburg.
‘n Gebroke mev. Van Zyl het vertel dat Hanré nie ‘n drinker was nie.
“Daar was geen alkohol in sy bloed nie. Ons wag nou maar vir die ondersoek om antwoorde te kry.”
Sy beskryf haar seun as iemand met ‘n hart van goud wat altyd ander se belange bo sy eie sou stel.
“Sy vriende het vir my gesê dat Hanré altyd daar vir hulle was, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit was nie.”
Die Van Zyl egpaar bedank HTS Middelburg, waar Hanré aan die begin van die jaar geproef het, en veral vir mnr. Nico van den Bergh en mev. Tanya van Eeden. “Hy het altyd net met lof van hulle gepraat.”
Hanré was die egpaar se enigste kind. Daar was teen druktyd nog geen begrafnisreëlings nie.



