BlogsEditor's noteOpinion

My Beurt: Johann Gresse

Pas nadat Pat Lambie die wenstrafskop teen die All Blacks deur die pale gejaag het, pak ek, Drew en Hanlie (skuilname om hul identiteit te beskerm - “Pat Lambie” en “ek” is egter nie skuilname nie) die pad na die Kingdom-staproete aan.

Danksy jarelange selfondersoek is daar bevind dat ek oor absoluut géén tegniese logika beskik nie. En onder druk vaar ek nóg erger.

Daarom was ek verbaas toe my reisvennote die padkaart- en navigasiepligte aan my toevertrou, méér verbaas toe ons die Ou Witbankpad raakry en op my verbaasste toe ons (twee ure later) die ingang van die staproete kry.

Soos reeds in ’n vorige rubriek genoem, is plaashekke my tier. Dis soos groen klippe vir Superman, “auto correct” vir Whatsapp-boodskappe en back tracks wat skielik ophou speel vir kommersiële Afrikaanse sangers.

Genadiglik was Hanlie daar vir morele ondersteuning, probleemoplossing en basiese instruksies rakende die uitvoer van hekoopmaakpligte. Tog is my ego steeds in die proses gekrenk en my duim vergruis.

Elkeen van daardie #$%# hekke (en daar was vier van hulle) moes jy op ’n verskillende manier oopmaak. Waarom weet ek nie; want met elke klein persoonlike hekoorwinning bring die volgende hekhindernis jou weer kliphard aarde toe.

By die kamp aangekom was die ander stappers in ’n vrolike, dog moeë luim.

Hulle het vroeër die dag voetgeslaan na die plek waar die Olifants- en Wilgerivier ontmoet – byna soos die Kaappunt van die Nkangala Munisipale Streek.

Dan het Gawie (die stapleier) ’n stywe pas gehandhaaf en die woorde “Bushwacking Dictator” is in sommige kringe gefluister.

Tog het Hansie Kransie, die Dalton-egpaar, Nealdi, Lambie (nie Pat nie), Elani en die Metromanne van die Stad ons hartlik in hul elektrisiteitslose midde verwelkom.

Aangesien ek en Drew glad nie deel van die dag se stappret was nie, het ons tot laataand om die vuur gestaan en wyshede kwytraak.

Teen 24:00 het ons egter die oornaghut gaan soek. Probleem is dat die hut soos die spreekwoordelike naald in die spreekwoordelike hooimied verdwyn het en “waar de duiwel is die plek?” is gereeld gehoor terwyl ons bekommerde koplampiestrale in slapende stappers se oë geflits het.

Na ’n kort vergadering is daar besluit om maar noodgedwonge langs die vuur te slaap.

Ongeveer 02:00 kry daardie einste vuur ’n tweede asem wat skrik vir niks en Drew word byna in sy slaap verkool. Die uwe se matras was egter so drie meter verder weg van die vuur en dit was te koud om vir Drew te hulp te snel. Ironies, maar waar.

Die volgende oggend word jy bewus dat jy deel is van ’n elite stapgroepie. Karrimor, First Ascent, K-Way en Salomon was oral te siene en die mense het ’n gedetermineerde blik in hul oë gehad.

Daarteenoor het ek in my draftekkies rondgestrompel, ’n Checkers-sak vir my waterbottel en Jelly Beans gedra en slaap in my oë gehad.

Gawie en die Hoofdalton het vinnig kajuitraad gehou, nog vinniger na die roetekaart gekyk en daar trek ons!

Die stappery was teen ’n redelike pas en daar was genoeg tyd vir die meisies om selfies te neem en die ouens om te kla dat hulle ’n beter roete as Gawie sou kies.

Die hoogtepunt was natuurlik die ruspouse by die rivier.

Net een keer het ons daaraan gedink om teen die gesag van Gawie en die Hoofdalton te rebelleer. Die stapkommandante het hul eie koers ingeslaan, weg van die veilige geverfde bakenklippe. En – as hulle werlik eerlik wil wees – was daar ’n tyd waar hulle nie geweet het waar ons is nie.

Op ’n stadium moes dit nogal ’n prentjie gewees het: ons stap-plebs wat op grondvlak onder die sonbesieson staan en verskroei, terwyl Gawie peinsend met sy verkyker op een klip staan en rondtuur, met die Daltonegpaar wat mekaar bekommerd op ’n ander rots omhels.

Byna soos ’n toneel uit ’n hartseer Afrikaanse Western.

Ander komiese oomblikke was toe ek Gawie se hand omtrent vergruis het omdat ek nie in die magtige Olifants wou intuimel nie (lees die water was seker 30cm diep) en Hanlie wat kort daarna in die einste magtige Olifants met ’n luide “WAAAH!” neerstort.

Die natuur is werklik iets besonders – daar is trouens nie genoeg plek in die koerant om dit omvattend te beskryf nie – en met goeie geselskap bring só ’n stapsessie jou net nader aan die Skepper.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button