Flopsport
Waarom is Oom Frans se oë so groot? Omdat die Kings hom so groot laat skrik het my kind.

•Kry die dorp se beste mechanic, die Bokke se ratkas het in reverse vasgehaak.
•Argentinië sal nooit weer dieselfde wees nie. ‘n Paar saad- en gifsmouse saam met die musikant Johan de Bruto het die rugbytoets bygewoon. Gooi mielies my maat, gooi mielies! Wonder waarom het hulle plakkaat gesê: “Bok skok, ouch”. (Nouja, Piet Erasmus en Jan Weijma saam, met De Bruto wat die ghitaar slaan, ouch!).
•Hulle kom van Waterval Boven, Stoffberg, Silverton en Witbank.
Hulle hou die dorp op hoogte van wat hier gebeur. Elkeen met sy eie storie en karakter.
So sal hulle ook onthou word. Soos die man van Silverton wat begin het met sy springfoto’s.
Elke jaar met die Loskop marathon laat hy die meisies spring vir die agterbladfoto.
Deesdae laat elke skool hulle kinders spring vir foto’s.
Volgende Saterdag is dit die Rhino Run en wat moes die arme kinders doen vir ‘n foto? Spring!
En die ergste is dat die juffrou ‘n fiets bokant haar kop moet vashou, terwyl daar gespring word.
So erg is sy magiese invloed van sy gespring dat ‘n vrou Saterdag tydens die treinwedloop hemelhoog gespring het toe sy hom sien. (En dit terwyl sy op volspoed was).
•Nie ‘n goeie week vir die Pumas gewees nie, eers verloor hulle ‘n hofsaak en moet duisende rande opdok en Sondag kry hulle afrigter se liefdeslewe ‘n rooikaart in Rapport.
•”Maak Jimmy Stonehouse die Bulle se nuwe afrigter” weerklink dit die laaste drie weke. Slegte nuus, Jimmy se kontrak sê hy moet nog tot 2017 Mbombela se sitplekke warm hou.
•Manchester United knor voort in die Premierliga en nou wil hulle boonop ‘n speler van Nederland koop met die van Blind. Maar nouja, in die land van die blindes kan een oog dalk koning wees. En dan is sy naam nog Daley, Daily Blind?
•Kon iemand nie aan ‘n beter idee gedink het om mense bewus te maak van motorneuronsiekte nie? Emmers koue water wat op jou uitgegooi word? Middelburg Marathonklub het dit Dinsdagaand gedoen en dit was nie verbasend om ‘n paar gevreesdes te sien met iets warm in die hand voor die koue water hulle getref het nie. Miskien moet hulle dit die OBKW-uitdaag maak. Nee man, O Blikskottel Koue Water, nie Old Brown en Koue Water nie.
•’n Hele paar mense het Sondagoggend pyne gehad waar hulle nie eers gedink het hulle plekke het nie. Alles die treinwedloop se skuld. Vra maar die Comrades veterane, mens moet eers oefen voor jy deelneem.
•Kan nie eers vandag se petroljoggies flous nie. Hulle ken hulle rugby. Daag met ‘n Puma baadjie op by die vulstasie. “Puma?” vra die joggie. “Ja Puma”. “Ek ken hom maar hau, hy is groot”.Verdedig met “Scrumhalf!” “Hau, nee, hy is klein”.




