Flopsport
Louis die Laeveld Leeu is onttroon deur Luis die Uruguay Byter. Sedert Luis Suarez 'n stukkie Italiaanse boarm beetgekry het, lyk ou Boggom en Leeu se streke na kinderspeletjies.

•En daar is geen taal waar daar so lekker met Luis se gebyt gespot kan word as die soetste taal nie, die taal so tussen Zoeloe, Vlaams, Frans, Ingels, Hollands en Duits:
*Hy is die speler wat Uruguay byt gee.
*Hy het sy tande by Liverpool geslyp.
*Luis is altyd honger om te wen.
*Fifa het sy tande getrek met ‘n lang skorsing.
*Nadat hy al soveel keer gestraf is vir sy bytery stem almal saam hy is ‘n vasbyter.
•Afrika o Afrika, Donkerland. Geen span van Afrika in die laaste agt van die sokkerwêreldbeker nie, maar klagtes word ondersoek dat Kameroen by wedstrydknoeiery betrokke was. (Is dit nie dieselfde span wat voor die wêreldbeker gestaak het vir groter salarisse nie?).
•En Ivoorkus se spelers sê so bejammeringswaardig: “Niemand gee om dat ons uit is nie, want niemand gee om vir Afrika nie”. (Is dit nie tyd dat Afrika begin wen en seker maak iemand gee om nie?).
•Loodvoetig se voet. Lood de Jager so een kyk gegee verlede jaar en gedink die lang, lomp slot, sal nêrens in rugby kom nie. Skuus?
•Saterdag in Madagaskar draf Zimbabwe teen Madagaskar uit met die Leeus se Guy Cronje op skrumskakel en Namibië het teen Kenia gespog met die Pumas se Renaldo Bothma op flank.
•Wie het gesê Paul Treu is nie ‘n goeie afrigter nie? In hulle vorige wedstryd klop Namibië vir Kenia met 84-12. Saterdag met Treu en Jerome Paarwater in beheer het die Keniane in Madagaskar met 29-22 gewen.
•Dankie tog Oupa het Saterdag speelkans vir die Bokke gekry. Nou is daar darem twee oupas in die span: Oupa Victor en Oupa Mohoje.
•Drie in ‘n ry…dit is die Puma Cravenweekspan se verloor rekord die seisoen en sy ondersteuners raak erg benoud, want oor bietjie meer as ‘n week pak hy die WP in die hoofwedstryd hier op HTS Middelburg se veld. Sondagoggend in Spar gesels afrigter Gert van der Westhuizsen sonder ‘n sweempie bekommernis, om die waarheid te sê, hy is vol vertroue die span is meer reg as verlede jaar. (As daar een ou is wat weet as dit warm in die kombuis raak moet jy nie benoud wees nie, is dit seker Chef).
•Kry ‘n e-pos Maandag: The South African Breweries (SAB) is calling all university microbrewery teams to participate in the 7th Annual SAB Intervarsity Beer Brewing Challenge. The Intervarsity Challenge is a key element of SAB’s promotion of beer as the natural choice for the moderate and responsible drinker. Weet van natural choice vir studente, maar is nie so seker van responsible drinkers nie. (Varsity rugby, Varsity atletiek, Varsity netbal, Varsity bierbrou. Wat is is volgende? Varsity kettieskjiet?).
•Nou wat se Hup Holland Hup is dit so? Oor die wêreld heen weerklink die liedjie noudat die oranje kompanje in die finale agt is:
Hup Holland Hup
Laat de leeuw niet in zijn hempie staan
Hup Holland Hup
Trek het beesie geen pantoffels aan
Hup Holland Hup
Laat je uit ‘t veld niet slaan
Want de leeuw op voetbalschoenen
Durft de hele wêreld aan.






