Local newsNews

Nóg grondeise het lodges aan die sweet

Lodge en plaaseienaars in die Damwal omgewing is bekommerd dat die nuwe eienaar van Mmatoti Safari, mnr. Piet Silubane, ernstig is oor sy planne om verskeie ander plase, waaronder Mbidi Lodge, De Villa Lodge en die Damwal besigheidssentra met Bospot, die 60-jaar oue slaghuis en vulstasie ook te eis.

Dié skoknuus oor verdere grondeise is tydens Mmatoti se amptelike opening op 14 Junie met die Observer susterkoerant, Die Daller, gedeel deur mnr. Silubane.

Die voormalige eienaar van die Arotin Wildsplaas wat nou Mmatoti heet, mnr. Steve Tindell, sê hy het ‘n jarelange opdraende stryd gevoer met die regering oor die 380ha plaas wat deur die Mmatoti stam geëis is.

Mnr. Silubane het intussen die naam van die plaas na Mmatoti verander en mnr. Tindell sê hy is bevrees dat mnr. Silubane wel ‘n legitieme aanspraak op omliggende plase het.

Mnr. Dolf Gouws, eienaar van De Villa, wat tans in die mark is, sê hy is nie bekommerd oor mnr. Silubane se dreigmente nie “omdat dit jare gevat het om die eerste eis af te handel, dié ding gaan beslis nie gou gebeur nie,” sê hy.

Hy sê egter dat mnr. Silubane hom persoonlik ingelig het van sy belangstelling in sy grond.

Hy sê sy plaas beslaan 10ha waarop 13 chalets, ‘n kroeg en restaurant, en ontspanningsgeriewe soos swembaddens aangebring is – “meer ‘n vakansie-oord as plaas,” verduidelik hy.

Die eienaar van Bospot restaurant, mnr. Chales Claassen, het gesê dat hy ook gehoor het van komende grondeise op die grond wat hy by me. Marthie Hugo huur.

Die Hugos bly al 50-jaar oorkant die Damwal sentra, wat aan die familie behoort, tesame met ongeveer 14ha lappies grond aan weerskante van die pad.

Me. Hugo, wat tot hede in die duister was oor mnr. Silubane se planne, het met skok reageer oor die moontlikheid dat die mat onder hulle uitgeruk kan word.

“Damwal Slaghuis het aan my skoonouers behoort en het verlede jaar sy 60-ste bestaansjaar gevier, ons beplan om die vulstasie te skuif en te vergroot en sterk te belê om die sentra te verbeter, nou dit!” was haar reaksie.

“Ek is geensins gerus nie,” sê me. Hugo.

Mnr. Tindell sê die hele probleem met grondhervorming, en spesifiek met gevestigde besighede, plase en lodges, is dat die regering nie geld het om die grond by eienaars uit te koop nie.

“Wat nog om die plase, besighede en lodges volhoubaar te hou!?” sê-vra hy.

Hy het meer as vyf jaar gesukkel om sy geld uit die regering te kry en sy geld is eers betaal nadat hy regshulp moes inwin om die sloerende transaksie deur te druk.

Mbidi eienaar, mnr. Willie Fourie, sê hy het destyds namens mnr. Tindell opgetree en sê dat hoewel daar ‘n eis op die grond was, mnr. Tindell na onderhandelinge besluit het om te verkoop en ‘n gelukkige man van die plaas afgestap het.

“Ons kan nie die eise keer nie, maar hulle sal moet bewys dat hulle die grond voor 1913 ontneem is,” sê mnr. Fourie.

“Eis is een ding, kry ‘n ander,” sê hy oor die Mmatoti stam se voorneme.

Mnr. Silubane het Donderdag gesê hy gaan beslis omliggende plase ook eis “maar ons bou eers aan Mmatoti om dit ‘n sukses te maak, voordat ons meer afbyt as wat ons kan kou”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button