
Grapkas.
Terggees.
Lief vir diere.
Het drake aangehou en was vreeslik erg oor sy hondjie.
Mens kon nie anders om van Dean te hou nie.
Om die waarheid te sê, Dean was een van my gunstelinge.
So stap mens ‘n pad saam met kinders.
Sien hulle bang met ‘n gemerkte tassie by die laerskool aankom.
Kaalvoet rammetjie rugby.
Stoutwees, kinderpartytjies.
Naweke saam weg.
En dan is hulle groot.
So vinnig, te vinnig.
Dan kry jy die nuus soos verlede week met Dean.
Dean is…jy wil nie daardie woord sê nie.
Want dis nie moontlik nie, nie Dean nie, nie die seun met die stoute glimlag nie.
Nie “Ou Dean” vir wie jy een naweek moes uithelp met sy opstel nie.
Die opstel oor “‘n Storm”.
En die laatlam se beswaar: “Pa mag nie vir Dean help nie, hy moet self sy opstel skryf”.
Maar Dean het nie opgegee nie en ons skryf…”van die wind wat geruisloos aangekom het, die tinteling teen die vensters…”
Gedink daai Afrikaanse onnie het self bang geword.
En toe kry Dean volpunte…en die laatlam se storm is ‘n stofwolkie.
Ag, en nou is Dean weg.
Maar mens kan nie help om in jou hart te glimlag nie.
Oor Dean, oor “Ou Dean”.



