Kompetisie: Vertel jou 4×4 storie
Daar is honderde 4x4 stories om te vertel, gewoonlik laataand wanneer die vuurtjie rooi kooltjies gooi.
Maar nou is daar ‘n ander plek om jou 4×4 storie te vertel en fantastiese pryse te wen: In die Middelburg Observer!
In samewerking met die buiteleweskou wat op 16 en 17 Augustus 2014 by De Voetpadkloof aangebied word is daar ‘n 4×4 kompetisie.
Dis maklik!
Vertel wat jy al beleef het of stuur ‘n foto of DVD na tobie@mobserver.co.za of lewer dit af by ons kantore in Meyerstraat.
Die kompetisie is so wyd soos die Heer se genade.
Dit kan benoude oomblikke wees iewers in afgeleë Namibië, dit kan net ‘n foto wees van jou 4×4 met sy koedoeleersitplekke of dit kan ‘n DVD wees wat geneem is tydens jou laaste uitstappie.
Lekker man, lekker!

En die prys maak dit die moeite werd:
Sewe dae verblyf in een van De Voetpadkloof se luukse log cabins vir vier mense.
Maar voordat jy gaan inboek en eers die Vallei wil verken, sal die hongerpyne knaag.
Daarvoor sorg die prys ook:
‘n Ete vir vier mense teen R100 per persoon by die gewilde Bospot. Daar kan jy natuurlik onder andere smul aan afval, skaapstertjies of pap en kaaiings.
Die wenner sal ook die buiteleweskou gratis kan bywoon.
Die sluitingsdatum is op 1 Augustus 2014.
Organiseerders van die buiteleweskou sal die wenner aanwys.
Al wat jy nou moet doen is om jou inskrywings in te stuur, jouself voor te berei vir die asemrowende skoonheid van De Voetpadkloof en natuurlik reg wees vir Bospot se smullekker etes.



