Die Middelburg-gemeenskap het weer eens gewys dat ons prioriteit lê by die opvoeding en ontwikkeling van ons jeug.
Nie alleen het ouers en vriende se ondersteuning en meelewing van die afgelope twee weke ’n onvergeetlike ervaring vir ons kinders gemaak nie, maar ook die onbaatsugtige bydraes van borge vanuit die gemeenskap waarsonder praggeleenthede soos hierdie onmoontlik is!
’n Besondere woord van dank gaan aan ons hoofborge, FNB en Barloworld Toyota, wat met ruim finansiële borgskappe vir beide skole deure oopmaak!
Hartlik geluk aan die leerders van HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg wat hul puik van hul taak gekwyt het om ’n dag van aanskoulike skolesport aan toeskouers te bied.
Belangriker as wen of verloor is die gesindheid en sportmangees wat deur die spelers en spanne vertoon is.
Die gees op die pawiljoen was vir menige toeskouer ook rede tot hoendervleis. Hierdie kinders is Middelburg se trots!
Baie dankie aan elke personeellid en afrigter wat hard gewerk het in voorbereiding tot die Classic Clash. Elkeen se bydrae en belegging in kinders kan nie na waarde geskat word nie.
Dit is ‘n voorreg om die Middelburg Observer te bedank vir hul aandeel in Middelburg se meelewende gemeenskap. Mnr. Tobie van den Bergh en sy span se rol in die aanloop tot, en die nabetragting van die Classic Clash is onmisbaar!
E.Z. Friedenberg het gesê: “Ons moet eerder besluit waar ons waardevol kan wéés, as hoe waardevol ons ís.”
Ek dank ons Hemelse Vader vir sóveel mense in ’n gemeenskap wat op sóveel terreine waarde toevoeg tot voordeel van ons kinders.



