Iets wat weer jou geloof in Homo Sapiens bevestig. Laat vergeet van die rotresies in die Malls van die wêreld.
Hier in Middelburg is my toevlug Duvenhage Droogskoonmakers en Leerwerke. Nie soseer die plek nie, maar die tannie daar agter die toonbank. Vir 74 jaar al.
Ontmoet haar, Johanna Elizabeth Duvenhage, nie by haar huis nie, nie in die ouetehuis nie, nee, in haar seun, Hans, se winkel.
Elke dag, vanaf die dag toe sy op 16 jaar in 1939 met Jan Duvenhage getroud is. Jan wat saam met sy pa as Bermuda krygsgevangene, sy loopbaan as skoenmaker begin het. By die bou van Loskopdam het hulle die werkers se skoene versool. Arm mense wat met pik en graaf vir hulle gesinne ‘n lewe moes loskap.
Jan wat op 69 jaar dood is. Jan van wie sy kinders een ding onthou. Sy onkreukbare eerlikheid. Op ‘n keer ‘n kliënt te veel gevra vir ‘n skoenversoling. In sy kar geklim en Stoffberg toe gery om die saak reg te stel.
En omgee vir sy medemens. Hoe ‘n kaalvoet boemelaar met ‘n paar splinternuwe Buccaneers (‘n bekende skoensoort van destyds) by Jan se winkel uit is.
Ook ander dinge. Sewe kinders grootmaak, laat leer, met skoene regmaak. Die erf kon koop waarop Midpark vandag pryk.
Toe bly tannie Hantie agter. Word Julie 91. Drie van haar sewe kinders al oor die 70 jaar. 12 kleinkinders, 12 agterkleinkinders. Dokters, bankbestuurders, aptekers, bourekenaars. Dit terloops. Aan titels en sulke grend dinge steur sy haar nie veel nie.
Solank haar kinders gelukkig is en sy nog elke dag kan werk, is die wêreld reg. Die baie vakansiedae pla wel. Nie lekker om ledig by die huis te sit nie!
Ook nie bang vir die dood nie. Het eerlik en opreg geleef, is gelukkig.
Sy glo haar saak is reg. En dalk, net dalk, daar in die hiernamaals, sal sy kan skoene regmaak.
Of dra Engeltjies nie skoene nie?




Net n regstelling dit is 15 kleinkinders.
Wat n merkwaardige vrou. Rokke gebrei vir ekstra inkomste, met die hand. Koekies gebak vir al die kleinkinders op universiteit. ‘N koekblik vol vir elkeen. Nie een word vergeet nie. Ek onthou hoe sy altyd vroeg opgestaan het, huis skoongemaak het, die reuk van politoer, en dan die koekies in die oond. Tog het sy nie ‘n dag in die winkel gemis nie, ek onthou die reuk van skoenlym en parrafien aan haar hande (want dis al wat die lym afhaal)… en sy kan sing. Vir my het sy in die winkel aan die slaap gesing. Oupa het altyd gesê sy moet nou eers die werk laat staan en my sus en sing tot ek slaap. Bokkies in die vlei, slapie kanienie en nog vele voor ek ver in droomland was. Die Here is goed. Hy was goed vir Ouma en het haar geseën met goeie gesondheid en n kalm gees tot nou toe nog. Sy is iemand wat WEET wat dit is om te bid en onvoorwaardelik te vertrou op haar hemelse Vader. Dankie vir die voorbeeld. Dis lekker om te kan dankie sê op so n platform. Dankie Dr. Terblanche.
So ken ek tannie Hantie pragtig dierbaar en altyd n helpende hand sal haar altyd onthou sy is een mens wat regtig kan en wil n voorbeeld wees vir ons vroue lief en nederig
Hans jy is ‘n geseënde man. Ek dink ook jou Ma is fantasties