Flopsport: Tobie van den Bergh
Brom, brom, brom, die Brumbies kom! Aan al die Visvoete, wat Viskoppe geword het Saterdag: Ons innige simpatie met julle nederlaag.

Onthou julle die groot smaad toe ons laas teen die Brumbies verloor het op Loftus? Eina my ente! Ons het darem teen vyftien Brumbies verloor, julle het teen dertien Brumbies verloor.
•Ou storie maar steeds ‘n mooi storie. Groblersdal wat een koue winternag op Middelburg kom speel het. Wyle Oom Dawid van Rensburg was die afrigter. Groblersdal het net vyftien spelers gehad en geen reserwes nie.
En toe word een van hulle spelers beseer en hulle het net veertien. Op daardie stadium het dit reeds sleg gegaan. Met net veertien spelers kon dit net erger.
Langs die veld het ‘n man gestaan wat gelyk het asof hy uit ‘n Egiptiese grafkelder ontsnap het. Gebandige van oortjie tot kroontjie. Net sy ogies het uitgesteek, sy kakebeen die vorige week gebreek. “Tóg!” het oom Dawid beveel. Die Mummie het hom verwonder aangekyk maar getóg.
So was dit toe rugby gevaarlik en seks veilig was. Spelers het met af bene en arms gespeel net om hulle dorp of hulle land se eer te verdedig.
Nou klim Duane Vermeulen in die vliegtuig en gaan paradeer in Toulon se trui, terwyl die span waarvan hy net nou die dag kaptein was, teen die Brumbies skandes maak. Hoe sê hulle nou weer: Jy kry lojaliteit by jou hond.
•Diegene wat die Karoo marathon oor tagtig kilometer gehardloop het, weet jy spring in Laingsburg weg, grootpad Kaap toe langs, tot by Matjiesfontein, waar jy regs draai, Sutherland toe. Nie lank nie en jy draai weer regs, terug met ‘n grondpad na Laingsburg, waar jy op die dorp se rugbyveld eindig.
Met die leeu wat daarin geslaag het om uit die Karoo Nasionale Park te ontsnap, en een na die ander merinoskaap verorber, kan daar dalk die jaar ‘n nuwe rekord op die roete opgestel word.
•Uiteindelik lyk dit of Suid-Afrikaners weer kan gholf speel. Lekker gewees om die Suid-Afrikaanse vlag tussen die Amerikaners te sien wapper. Jordan Spieth, Louis Oosthuizen, Dustin Johnson, Adam Scott, Branden Grace,
Cameron Smith, Charl Schwartzel…Hanro Kilian.
•Toemaar, Hanro se naam is nog nie daar nie, maar as die HTS Middelburg gholfspeler kan voortspeel soos verlede week toe sy bal in ‘n boom weggeraak het, kan hy dalk eendag Chambers Bay se monster setperke tem.
Hy het ‘n agt op ‘n syfer-vier gespeel, nadat sy bal deur ‘n boom ingesluk is. Hy veg met mening terug om met 75 houe te eindig, wat net drie oor baansyfer is.
•Kan hulle nie al die gholfbane se setperke so maak nie? Die bal land, hy rol, en hy rol, en hy rol, en hy rol in sy se mmm…molgate toe.
•Sê iemand: “Keith Kirsten se kolf is by Laerskool Middelburg se gholfdag opgeveil”. Dit moes seker ‘n graaf of spitvurk gewees het. (Gary Kirsten? Klink meer na die waarheid).
•Skuif die Curriebeker Japan toe en sommer die Bokkieweek, die Cravenweek en die Volkseieskoleweek.
•Dit is vakansie en dis toere. Waar is die dae toe Laerskool Dennesig Bethlehem toe gery het met ‘n bus en van daar af Richardsbaai toe. Een lekker lang toer. Gert Lapa het die kos gemaak, net die beste.
Daar was Brigadier Hendrik Lourens, Alwyn Botha, Christo Janeke, Danie de Beer, Hannes Brits, Leon de Wet, Jan Venter en Oom Boet met sy safaripak.
Die Boksombende se Moses. Daardie jare het die dorp se onmoontlike tweeling, Koos en Buks, nog op Richardsbaai in die karavaanpark gebly.
Na die toer is daar opgepak en Buks het saam met die groepie vroue gestaan toe daar ‘n boot verbykom met die naam Wild Cat op. ‘n Goedbedeelde kat wat grom, was op die boot geverf.
Die vroue het bloedrooi in alle rigtings gespat toe Buks uitroep: “Kyk daai kat se k!&t!”



