BlogsEditor's choiceOpinion

Bloubloed

Die Krieketwêreldbeker is om die draai en as ’n veteraan-ondersteuner (sedert 1992) ken ek elke Suid-Afrikaanse tragedie en komedie wat netjies verweef is tussen ’n paar uithalervertonings op die krieketveld.

Hier volg my Wêreldbekerherinneringe:

• 1992 in Australië en Nieu-Seeland (was vier jaar oud):

In 1992 het die krieketgogga reeds gebyt en volgens oorlewering het ek verskeie tennisballe oor my ouma se draadheining die Bethalstrate ingeslaan. Maar van die krieket op die ou bokstelevisie onthou ek nie veel nie.

Later het ek in tydskrifte en krieketboeke gelees van Allan Donald se eerste aflewering na die Aussie-aanvangskolwer, Geoff Marsh.

Marsh het ’n dun buiterandjie na Dave Richardson gekry en die Suid-Afrikaners het heel opgewonde begin seëvier, net om te sien dat die skeidsregter nie hul entoesiasme deel nie. Trouens, hy het gelyk soos ’n nugter man op ’n nuwejaarspartytjie – hy het nie lekker geweet wat aangaan nie.

Dan was daar natuurlik Jonty Rhodes se swaeltjie-duikslag om vir Inzamam ul-Haq uit te hardloop, Meyrick Pringle se 4/11 teen die Wes-Indiese Eilande en natuurlik die 22-van-1-bal-ramp teen Engeland in die halfeindstryd.Die beste ding van hierdie wêreldbeker is dat ons Australië sommer in die eerste wedstryd geklop het. En hulle het nie eens die halfeindstryd gehaal nie.

* Wenners: Pakistan

* Beste herinnering: kan niks onthou nie.

• 1996 in Asië (was agt jaar oud):

Het ’n hele plakboek vol krieketfoto’s van dié wêreldbeker gehad. Australië se Mark Waugh was die groot held. Sy foto was elke week in die koerant omdat hy boulaanvalle links en regs stukkend geslaan het.

Suid-Afrika het ook in 1996 goed gelyk en Gary Kirsten het die kollig met 188 nie uit nie teen die Verenigde Arabiese Emirate gesteel. Sy openingsmaat, Andrew Hudson, het teen Holland ook gewys waartoe hy in staat is toe hy 161 lopies gemoker het.

Ons trein is egter kwaai in die kwarteindstryd deur Brian Lara ontspoor. Die Windies-kolfprins het ’n honderdtal geslaan en sonder Donald in ons boulaanval het ons maar bra amateuragtig gelyk.

* Wenners: Sri Lanka.

* Beste herinnering: Kirsten het met ’n Suid-Afrikaanse vlag as kopdoek gekolf toe hy sy rekordtelling geslaan het. Onthou hoe ek in al my skoolwedstryde daarna met ’n kopdoek gaan kolf het. Behalwe ek het nie ’n vlag gehad nie en moes een van my ma se serpe gebruik.

• 1999 in Engeland (was 12 jaar oud):

Waarskynlik ons beste span by ’n wêreldbeker met name soos Klusener, Kallis, Cullinan, Gibbs, Donald, Rhodes, Pollock en Cronje, in ons geledere. En ons het dinge steeds opgemors.

Hoe minder daar van daai berugte Lance Klusener/Allan Donald-uithardloopfiasko in die halfeindstryd gesê word, hoe beter. My pa het nog op en af langs die sitkamerbank gespring want hy het gedink ons het na die eindstryd deurgedring. Die skok het hom ’n paar minute later soos ’n vuishou getref. Hy het te hard op die riempiesstoel neergeslaan en summier dwarsdeur die riempies geval.

Moet sê, dit het nogal baie met die herstelproses na die teleurstelling gehelp.

*Wenners: Australië

* Beste herinnering: Lance Klusener se heldedade.

• 2003 in Suid-Afrika (was 16 jaar oud):

Herschelle Gibbs slaan 143 voor ’n stampvol Wanderers en ons verloor steeds teen Nieu-Seeland…

Ons speel in ’n ongelooflike vervelige wedstryd teen Kanada…

Shaun Pollock sukkel met die Duckworth/Lewis-berekeninge en ons maak droog op ’n nat Kingsmead…

* Wenners: Australië

* Beste herinnering: Ek het daardie jaar die beste krieket van my lewe gespeel en ons skool het selfs vir Affies se vierde span gewen!

• 2007 in Wes-Indië (20 jaar oud):

Onthou hoe AB de Villiers so wisselvallig soos die JSE Effektebeurs op ’n koue Maandag was. Vier nulletjies en ’n telling van 146 teen die gasheerland.

Jacques Kallis – met Mickey Arthur se “brave cricket” in sy ore – vir Glenn McGrath stormloop net om skoongeboul te word. Ons was iets soos 27/5 teen Australië in die halfeindstryd. Dinge het maar redelik suid gegaan, soos een van my tjomme sou sê.

*Wenners: Australië

* Beste herinnering: Ek het onderskeidings in my tweede jaar op universiteit gekry.

• 2011 in Indië (24 jaar oud):

Ons was goed.

Het vir Indië in ’n riller gewen en die hele volk het feesgevier want ons het die gewraakte “chokers”-etiket vir ’n ses geslaan.

Toe verloor ons in die kwarteindstryd teen Nieu-Seeland.

Soos Shaun Pollock in ’n televisie-onderhoud gesê het: “It was a bitter pill to swallow.”

* Wenners: Indië

* Beste herinnering: Dale Steyn se vyf paaltjies teen Indië.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button