My beurt: Jana Boshoff
"Ek vandag vra of hier nie iemand is wat sy weg sal oopsien om ons te help nie..."

“Help asseblief, ‘n mamma met ‘n klein baba kort dringend melk en klere…”
“Mense van Middelburg, help asseblief! ‘n Gesin gaan binnekort uit hul huis gesit word. Hulle het niks.”
Nood, behoefte. Die golf van mense in nood, finansieel en emosioneel, word net al hoe groter. Facebook het die ideale platform geword om vir hulp te vra.
Party vra reguit, ander kom met ‘n draai en party sit ‘n gebed op waarin hulle vir God vra vir spesifieke goed, soos ‘n rooi lap, ‘n waentjie met wielietjies en drie bottels Creme Soda.
Ek kan nie help om te wonder of daar mense is wat dink God gaan soos ons ander sterflinge met die Facebook timeline af op soek na mense in nood nie. Wat sê die Bybel nou weer van op die straathoeke staan en bid?
“Wat gaan ons doen? Dit raak net te veel, ons kan nie almal help nie?” vra ek een dag paniekerig aan my redakteur. Mens kan tog nie net weg kyk en aangaan nie, maar mens kan onmoontlik nie almal help nie.
Hy vertel my die storie van man wat op die strand gaan stap het. Daar het derduisende seesterre op die sand uitgespoel. Soos wat die man gestap het, het hy kort-kort ‘n seester opgetel en terug in die see gegooi.
Iemand vra hom toe of hy besef dat daar duisende sterre is wat daar lê en vrek en dat dit hopeloos is omdat hy onmoontlik nie almal sal kan terug gooi nie.
“Ek weet, maar in die lewe van daardie een wat ek terug gooi, maak ek ‘n verskil.”
Elke keer as ek paniekbevange raak wanneer ek die omvang van die behoefte daar buite besef, dink ek aan daardie storie.
Vir die wat so op Facebook bid – vra maar eerder soos die ander behoeftiges reguit wat jy wil hê, jy het nie data nodig om God te bereik nie.
Aan die wat nog nie nodig gehad het om vir hulp of bystand te pleit voor 10 000 ander mense nie, help waar jy kan.
Want die lewe gaan op die ou end tog nie oor daai lekker vakansie in Mosambiek of daai nuwe paar skoene nie…
Hebreers 13:16 sê: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.”



