BlogsEditor's choiceOpinion

Bloubloed

Groen gras, sonbrandroom, roomys, spykerskoene, seer kele en megafone... Jip, dié kombinasie kan net een ding beteken: skoolatletiek!

En waar ander kla om Vrydagmiddae in 36°C ’n paar verspringfoto’s te neem, geniet ek dit weer. Trouens ek bied selfs heel vrywilliglik aan om te gaan.

My eie atletiese vermoë is heel beskeie: dit het altyd gelyk of ek verspring by die hoogspringitems doen, terwyl ek een keer my pa afgepers het om ’n brief te skryf sodat ek die Interhuisuitdunne kan misloop.

Het wel in 2005 waarskynlik die 1500m Afrikarekord met meer as 12 minute verbeter, maar dit was net omdat ek die tydhouer gefnuik het deur kortpaaie te neem. Onthou hoe almal super opgewonde was. Hulle was egter net vir ’n rukkie opgewonde.

Daarom is dit lekker om skoolatlete af te neem wat hul storie ken. In die afgelope paar jaar was ek bevoorreg om sterre soos Donovin Stebbing, die Rens-gesin en kie af te neem.

Hierdie jaar haal Hoërskool Middelburg se Lebogang Maloka die hoofopskrifte – hy spring verder as sewe meter en kan die 100m en 200m in belaglike tye afblits.

Dit is egter nie net die supersterre wat vir goeie foto’s sorg of ’n atletiekbyeenkoms maak nie.

Soms is ’n oorentoesiastiese ouer (en daar is baie van hulle – veral by die laerskole) of ’n kind wat net hardloop om dit geniet jou beste foto’s. O ja, atletiese juffrouens is ook altyd ’n ekstra byvoordeel op ’n warm dag langs die hoogspringmat of skyfwerphok.

Toegegee, só ’n atletiekdag kan nogal lank raak. Hier is ’n paar oorlewingswenke:

• Pak genoeg sonbrandroom in. Anders is jy teen 16:00 rooier as ’n tamatie en die volgende dag meer spyt as iemand wat baie spyt is oor iets.

• Ken jou koelte spots. Kan of ’n reuse boom of die gewigstootafrigter se skaduwee wees.

• Koop vir jou ’n stel shoulder pads of werk hard aan jou skouers en plofkrag in die gimnasium. Kom handig te pas wanneer jy ander fotograwe uit die pad moet stamp wat voor jou indruk.

• Onthou jy hoe geïrriteerd jy met jou ma of ouma was toe hulle destyds aan jou gekarring het om “iets warms” saam te neem? Hulle het dalk ’n punt beet gehad wat atletiekbyeenkomste betref. Want so warm as wat dit 14:30 was, so koud kan dit om 22:30 tydens die laaste afloslopie wees.

• Wees op jou hoede. Danksy tegnologiese vooruitgang hoor g’n mens, behalwe die atlete, die wegspringskoot nie. Die verbasing is groot as jy sukkel-sukkel met jou kamera oor die baan strompel, net om skielik vir 100m-atlete te koes.

Maar atletiekbyeenkomste en veral die Interhoër is van die lekkerste tye by die koerant…ek is bevoorreg om dit by te woon.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button