“Lei deur ‘n voorbeeld” en ander sportjoernalistiekgevare
Die kuns om ’n goeie sportstorie te skryf, lê alles in die inleidingsparagraaf.

Dit moet soos AB de Villiers se zoep-zap-en-zirts-kolfbeurt teen Wes-Indië wees: trek soveel moontlike aandag in die kortste moontlike tyd (of dan spasie).
Kry jy dít reg en lesers sal die res van jou verslag lees. En wie weet, dalk lê daar verder óók ’n paar verskuilde sportjoernalistiekjuwele.
Om oor sport in ’n gemeenskapskoerant te skryf, bied ’n paar unieke uitdagings.
Die grootste hiervan is seker die feit dat die koerant eers ’n paar dae ná die afloop van ’n wedstryd verskyn – anders as die groot nasionale Sondagkoerante wat soms net ’n paar uur na die aksie verby is, reeds op straat is.
Om die rede is dit altyd belangrik om vir iets anders te soek om jou berig oor die gebeure in te kleur én om relevant te bly.
Praat met die kapteins of die speler van die wedstryd en hoor sy opinie oor die gebeure. Vra interessante vrae. Die gevaar wat jy egter híér loop, is dat hul antwoorde ingeoefen mag klink.
Met ander woorde, die gevreesde “ek-probeer-maar-lei-deur-’n-voorbeeld-te-stel” of die “die-span-wat-hul-kanse-die-beste-benut”-sindroom.
Dankie tog ek werk vir ’n koerant waar skoolsport van super belang vir die gemeenskap is!
Tieners is slim, skerp en glad nie bang om snaaks te wees nie.
Soos die keer toe ek ’n o/19 Pumakrieketspeler gevra het waarvoor hy die bangste sal wees: om sy matriekeindeksamen te skryf of om vir Mitchell Johnson op die blitsige WACA-kolfblad te trotseer.
Sonder om te blik of te bloos het hy met dié kwinkslag vorendag gekom: “Definitief om vir Mitchell Johnson te face. Om eindeksamen te skryf, speel jy met jou toekoms. Om vir Johnson te face, speel jy met jou lewe!”.
Hulle kan egter aanvanklik op hul senuwees wees as jy met die onderhoud begin. Indien dit die geval is, skop ek altyd af deur ’n baie simpel vraag uit die bloute te vra. Iets soos of hulle tevrede is met die snoepie se pepper steak pies.
Normaalweg is hulle só oorbluf, dat hulle onmiddellik op hul gemak is.
Die kere wat ek wel ’n wedstrydverslag moet skryf – soos gedurende vanjaar se Cravenweek, die Classic Clash of ’n Middelburg Rugbyklub/Witbank Ferro-wedstryd – is dit belangrik om te sorg dat die lesers voel of hulle deel van die aksie was.
Hulle moet die plettervat op Johan van der Walt vóél, terwyl hulle die toorkuns en spoed van Abednego Mamushi in hul geestesoog moet síén, nie net die woorde op papier nie.
Dit is ’n voorreg om oor sport te skryf. En in Middelburg is ons geseënd met baie talentvolle sportmanne en -vroue.



