My Beurt
Na twintig jaar se troue liefde is geen skeiding maklik nie. Dit het nou met Rusty gebeur.

Hy is aan “aktiewe diens” onttrek.
Nou kan julle tereg vra: Rusty?
So gedoop deur die laatlam wat niks wou weet van die getroue Astra nie.
En niks wou weet van die argument dat dit ‘n “goeie kar” is nie.
Want sien, die beste kar op die pad is die een wat klaar betaal is en Rusty is cash en kontant aangeskaf.
As ‘n kar jou nooit in die steek laat nie, wat wil jy meer hê?
Nou goed, daar was die kere toe jy hom in die steek gelaat het.
Is ‘n ekspert in ligte aan vergeet en sleutels verloor.
Ou Tonie moes gereeld met sy “jumpers” vir Rusty ‘n paar hartskokke gee om hom weer by te kry.
Maar die ligte aan vergeet het die familie ‘n paar keer in groot verleentheid gebring. So was daar atletiek op Secunda en toe ons by Rusty kom was sy battery pap, morsdood. Gelukkig was Laerskool Middelburg se manspersoneel byderhand. Met die hoof, mnr. Gert van Zyl, heel voor is daar gestoot en gegiggel met die laatlam wat vloer toe verdwyn het.
‘n Paar Saterdae later was dit sport op Springs. Met die aanstap kar toe is gesien hoe Rusty sy oë knip-knip. Nog nooit soveel skietgebedjies opgesê nie: “Asseblief Rusty, vat net!” Wonderwerke gebeur steeds en na die eerste draai was dit ‘n geproes en geknor maar daar vat hy!
Na soveel jare bou jy ‘n spesiale band op met jou ryding en dit was veral so met Rusty.
Sien, Rusty was nie eers ‘n jaar oud nie toe word sy venster flenters geslaan en sy radio en luidsprekers gesteel. Net daar besluit dit help nie jy sluit hom nie en ‘n radio sou hulle tog weer steel.
Van toe af praat ons maar so met mekaar. Veral Dinsdae oppad Groblersdal toe.
Dit het ook vir vele komiese oomblikke gesorg, wanneer mense by die kantoor verby ry of Rusty in die straat sien en verbaas vra: “Het jy geweet jou kar is nie gesluit nie?”
Glo die diewe het self gedink: “Los liewer dié kar want dit is net ‘n lokval”.
Toe kom daar ‘n nuwe liefde in my lewe, Whitey – ‘n wit Cross Polo. ‘n Ander dierasie.
Maak tot jou sitplekke van onder af warm. Rusty kon dit ook doen, maar eers as hy ‘n dag lank in die son gestaan het.
Ligte sal jy nooit weer aan vergeet nie, want elke keer as jy uitklim gee hy ‘n sein wat klink soos net voor hulle ‘n aankondiging oor die openbare luidspre-kerstelsel van die lughawe doen.
Daar is net een probleem: Jy kon Rusty se enjin hoor loop – Whitey nie. Wanneer jy nou stop “ref” jy eers so paar keer om te hoor of hy nie uitgesny het nie.
Whitey het ‘n klankstelsel wat skrik vir niks.
Ry nou Groblersdal toe terwyl Katie Melua met jou praat:
Some call it faith, some call it love
Some call it guidance from above
You are the reason we found ours
So thank you stars
Some people think it’s far away,
Some know it’s with them every day.
There are no winds
That can blow it away on the air,
When they try to blow it away
is when you know
It will always be there.
To some it’s the strength to be apart,
To some it’s a feeling in the heart.
And when you’re out there on your own.
It’s the way back home.
So thank you stars…



