BlogsEditor's choiceOpinion

Flopsport

Wonderlik as die Bulle so aanhou verloor. Van heinde en verre kry jy skielik boodskappies van bemoediging. Selfs een van Hermie Crous gekry wat tussen Niks en Nêrens bly, maar vir almal vertel hoe lekker is dit, al is daar net 'n boerbok, 'n kroeg en 'n poskantoor sonder posman.

•Wees bevrees en beangs Bulle, Frans Ludeke het Maandag gesê die Bulle gaan net weer doen wat hulle die hele seisoen doen: Verloor.

•”Ons uitvoering van die wedstrydplan was nie akkuraat nie, ons het beserings aan sleutelspelers, en alle krediet aan ons opponente, ons kan nie die druk goed verwerk nie en laastens, ons bly by ons sisteem en die resultate sal kom.” Al hierdie ene gehoor? Ja, julle het, aan die begin van die Curriebeker siesoen. Resultate? Eerder Raserny!

•Nadat die Leeus alreeds in die eerste helfte met die Pumas klaargespeel het merk iemand op: “Hulle gaan seker nou ook met skoon onderbroeke op die veld verskyn”.

•Park Run, jy parkeer jou kar in die veld en hol vyf kilometer. Deelnemers aan Saterdag se eerste Park Run het gou geweet hulle is op die plaas toe hulle hier en daar moes trap tussen die beesmis. Selfs toe die Observer se fotograaf nader staan, moes daar plekkie geskrop word tussen die mis. En wie sou kon dink jy het so mooi uitsig oor die dorp skaars tien kilometer uit op die Stoffbergpad? Net die wat Saterdagoggend op die plaas gaan draf het.

•Die groot aantrekkingskrag was natuurlik die Comrades legende, Bruce Fordyce, wat op byna sestigjarige ouderdom k&kskene vir die res gewys het.

•Amakhosi al die pad. Wie kan die Chief onttroon nadat hy nog ‘n beker gewen het? (Gedink ons rugbyouens is fanaties. ‘n Pirates ondersteuner het hom Saterdagaand binne sy huis aan die brand gesteek nadat sy span verloor het).

•Kampioeneliga? Duidelik is ons krieketspanne nie van kampioenmateriaal nie.

•Twee bussies vertrek Vrydag van Witbank af, darem nog lekker om te sê Witbank, vol gelaai met ou, baie ou en oud Suidoos spelers. As julle Vrydagmiddag ‘n magtige dreuning verby die dorp hoor gaan, moenie vrees nie, dit is spelers wat die bus laat gons met stories oor “toe ons nog gespeel het”. En as die Pumas later die aand teen die WP sukkel, kyk maar net op na die losie, daar kan dalk vir julle hulp vandaan kom.

•In die ou dae het spanne soos Suidoos juis bus gery en ‘n hamburger gekry as beloning. Die eerste wedstryd saam met die Suidoos-Transvaal A- en B-spanne was na Welkom. Sommer so ou bus, maar daar was ‘n luidsprekerstelsel wat natuurlik goed aangewend is deur Robert Brand, die sekretaris. Oppad terug die oggend het Polla Fourie die kroeg laat oopsluit en ‘n paar kaste bier ingelaai. Op Robert se vraag: “Wie gaan hiervoor betaal?” het Polla net geantwoord: “Die unie!” So halfpad terug na Witbank is daar gestop. Dit is toe dat die robuuste Polla ‘n slang vang en met hom in die bus klim, tot groot konsternasie…(Ai, dit was die dae).

•Die spelers wat Vrydagaand na Nelspruit reis, sal natuurlik in detail kan vertel van 1983, toe die WP met al sy Springbokke pakgegee is. Voor aan die reëlings is die kaptein van daardie jaar Richard Cooke. Dit is nou soveel jare later, maar hy bly die Yster wat hy was…of die Engelsman en ‘n Gentelman. (Soos Brian Clarke gesê het: “‘n Goeie klein Engelsman”).

•Die hoërskole sewes word die naweek in Skukuza voortgesit. Manne, as julle ‘n gegiggel hoor kan dit dalk nie jou meisie wees nie maar ‘n hiëna wat lag vir ‘n leeu wat op jou wag. (En dan betaal jy vir die gelag).

•Asof dit nie genoeg is dat die Bulle verloor nie, doen Manchester United dit ook en jy sien Ferrari nêrens.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button