My Beurt
"Moenie aan die ALS Ice Bucket Challenge deelneem nie, want jy skenk eintlik geld vir wrede wetenskaplikes om toetse op onskuldige diertjies te doen." (ALS is die Engelse afkorting van MNS wat staan vir motorneuronsiekte.)

“As jy ‘n emmer yswater oor jouself uitgooi dan is jy besig om jouself in die naam van Satan te salf.”
Ek is soms bang om te vinnig links en regs te kyk as ek ‘n straat oorsteek omdat dit dalk iets in een of ander geloof kan beteken.
Mense is baie vinnig om dinge uitmekaar te trek. Ons leef tans in die oortreffende trap van “ondersoek alle dinge en behou die goeie.” Ons ondersoek beteken gewoonlik dat ons dit Google. Want alles is op Google en as dit nie daar is nie, is dit nie die moeite werd om te weet nie. En ons sal soek tot ons iets sleg gekry het.
Ek het die waarskuwing teen die Ice Bucket ding verwag. Daar is vandag waarskuwings teen alles – die een ou sê jy kan maar brood eet, die ander een sê dis net so goed jy eet glas. Die een waarsku dat Coke jou stadig maar seker vergiftig terwyl my ouma altyd gesê het ‘n glasie Coke sonder gas is net die ding vir ‘n omgekrapte magie.
Ons het aan die Ice Bucket Challenge deelgeneem. En daarna het ons maatskappy geld geskenk aan die J9 fondasie. Ek weet daar is wrede stories oor toetse wat op diere gedoen word. Gaan Google dit gerus en kyk na die grillerige prentjies wat opkom.
Waaroor ek net wonder: As dit jou man, of ma of sussie is wat aan MNS ly. En jy sien daagliks hoe hulle agteruit gaan. Gaan jy regtig omgee as ‘n wetenskaplike êrens ‘n hasie of ‘n muis seermaak op soek na ‘n kuur? Want ek gaan nie omgee nie. Ek sal selfs help om die hasies aan te ry of te teel.
Ek weet daar is seker nou ‘n paar mense wat my soos die arme hasie slagoffers sal wil slag, maar ek gee nogsteeds nie om nie.
Dieselfde geld vir die satanistiese ritueel: dit is nie die eerste keer nie en vir seker ook nie die laaste keer wat ek ‘n bak yswater op iemand gaan uitgooi nie. Ons doen dit al van skool af, sommer vir simpelgeit. Op universiteit het ek graag ‘n emmertjie yswater oor die stort se muur geskiet terwyl my roomie besig was om te stort. Want dit is snaaks (behalwe as dit met jou gebeur.)
Ek is seker daar was al ‘n paar sataniste wat vir een of ander rede yswater oor hulself uitgegooi het. Maar dit het niks met my te doen nie. As ek iets doen vir ‘n goeie doel, al is dit nou iets soos om yswater oor myself uit te gooi in die middel van die winter, dan doen ek dit steeds in die naam van my God. Want ek is ‘n tempel van my God, en niks of niemand kan dit verander nie.
Waarskuwings ter syde, ek moet erken voor die yswater affêre het ek nie veel geweet van MNS nie. Ek is nie juis iemand wat vir Joost volg of regtig belangstel in wat hy sê nie, nie voor of na sy siekte nie. So vir my het die Ice Bucket Challenge gedoen presies wat ek hoop dit vir baie ander mense gedoen het. Dit skep bewustheid.
Ek het iets gedoen oor ‘n siekte waaroor ek nie voorheen baie gepla was nie. En dit het my tog genoop om ten minste te Google waarvoor ALS of MNS staan. So bring maar die bakke ys.
En sing in jou kop: “My God is so groot, so sterk en so magtig…”



