BlogsEditor's noteOpinion

My Beurt

"Ek verlang na jou. Na die winde wat sy arms om my vou. So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan. Verlang jy ook na my? Daar waar jy nou in die verrelande bly. En verlang jy as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan? Waai...wind. Bring...hom terug na my."

En in die saal by FH Odendaal ruskamp sit ‘n duisend troepe en snork.

Dit was nie net Sonja Herholdt wat daardie aand verlang het nie.

Daar was verlange na ‘n Ma en Pa, ‘n boetie en sussie, ‘n meisie, ‘n warm huis, ‘n hond…

Dit was die jaar 1976, dienspligjaar. Finale opleiding voor jy grens toe is.

Na ‘n dag se luiperdkruip, skynaanval met lewendige ammunisie, nag in die veld en dog biscuits, was die troepe moeg. Terwyl Sonja tog te fraai op die verhoog haar bes probeer, is daar geslaap…en verlang.

Dit was ook die tyd van sanksies en petrolrantsoenering.

Sonja Herholdt is op 23 Augustus te sien by hierdie jaar se Teddiebeer Teepartytjie.
Sonja Herholdt is op 23 Augustus te sien by hierdie jaar se Teddiebeer Teepartytjie.

Die volgende oggend vroeg het ‘n klein petite blondekoppie by Bourkes Luck, tuiste van Sewe Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon, se hek opgedaag.

Sonja het bestuur.

Soos die res moes sy eers die besoekersboek invul.

“Rede vir besoek?” “Gaan petrol ingooi.”

Sal nooit die glimlag vergeet nie.

As jy ‘n negentienjarige troep was en elke dag in hangsnor sersant-majore vaskyk, was die vrou hier voor jou soos ‘n prentjie uit die Kinderbybel.

En net voor sy wegry, gee sy weer daardie glimlag.

Op die getekende foto wat sy deur die venster druk staan daar: “Baie liefde” en netjies geteken: “Sonja Herholdt”.

Agterop is geskryf: Singles: “Ek verlang na jou” en “Waar gaan jy heen?”

Maar die kar het skaars weggetrek toe gryp die korporaal, wat ook op wagdiens was, die foto.

sonj_535113418

“Dis my foto jou f@^& troep!”.

Maar geen korporaal vat my Sonja se foto nie!

En vandag, 38 jaar later, glimlag Sonja steeds daardie glimlag vanaf ‘n swart en wit getekende foto’tjie. Sorry vir jou korporaal.

Wanneer sy oor twee weke by die Teddiebeer Teepartytjie in die Hartlandsaal optree, sal dit nie voor duisend snorkende troepe wees nie, maar voor ‘n saal getooi in reënboogkleure vol teddiebere.

“Waar gaan jy heen?”

Verlange?

“Waai wind, bring hom terug na my?”

…38 jaar het vir ons elkeen ‘n ander antwoord gebring.

Van daardie jong Suid-Afrikaners het die verrelande ingegaan, maar nooit teruggekom nie.

Daar is steeds verlange, maar van ‘n Ma en Pa, ‘n Boetie en Sussie…

Sonja? Sonja het steeds daardie glimlag, die glimlag by die army se hek…

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button