BlogsEditor's noteOpinionUpdate

My Beurt: Johann Gresse

Na twee weke se siekbed, waar ek myself onsettend jammer gekry het en nie veel simpatie ontvang het nie, is ek weer terug op my pos. Nie net in die gimnasium nie, maar ook in die dansomgewing.

• Wat die maagspiere betref, gaan dit maar swaar.

Het egter die beste raad ooit nou die dag in Virgin Active ontvang: “Minder eet en meer oefen, tjom. Net dan sal jy progress begin ruik”.

Toegegee, ek het nie geweet wat die ou vir my sê nie (ek will immers vooruitgang sien en nie dit ruik nie), maar hy was baie groter as ek, ry ‘n tien-teen-een ‘n Toyota Hilux en besit waarskynlik sewe pit bulls.

Het maar my kop instemmend geknik. Dit het my egter ook vasbeslote gemaak om harder te oefen… sodra ek hierdie pak Sprinkle Pops klaar geëet het.

Maar duidelik stel die publiek belang in my soektog na die utopiese meisie-verlei-sommer-sonder-enige-persoonlikheid-maagspiere.

Nou die dag het ‘n meisie my gevra of ek die “Johann Gresse van die koerant is wie so sukkel in die gym”, terwyl daar selfs op ‘n hardenuustoneel oor die welstand van my versteekte maagspiere uitgevra is.

Het onlangs vir die eerste keer in my lewe die plank-ding gedoen. Altyd gedink dit is vir jou meer verfynde gym-mens.

Hoe verkeerd kon ek nie wees nie.

Basies lê jy daar op ‘n mat met slegs jou tone en jou elmboë wat die grond raak; die res van jou hang in die lugruimte rond.

Vasberade en ja, selfs met ‘n tikkie arrogansie, het ek dit aangepak. Na 15 sekondes het my hele lyf egter so onbedaarlik begin ruk, dat ek die aftog geblaas het.

Ruik dus egter nog nie progress nie, maar ek ruk dit wel.

• Dans is ook ‘n moeilike storie. Baie moeiliker as die maagspiere-veldtog.

Weens my afwesigheid van twee weke, het ek omtrent al die bewegings vergeet, terwyl my voete snaaks genoeg meer lomp as normaal is.

Vianca – die Mercedez-Benz van dans – het egter emmersvol geduld en moedig jou gereeld aan.

Sy het selfs die week met haar eie dansklasse daar by InspireFit begin. Die feit dat ek van die bewegings al soortvan begin onthou én regkry, wys net hoe goed sy is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button