Flopsport
•Was die Sharks toe in Nieu Seeland? Geen wonder daai ou in Dennesig se Sharksvlag hang halfmas nie. (Probeer maar weer volgende jaar om die Bulls na te doen).

•Die vroue binnenshuise krieketspan het in hulle nasionale toernooi bekendgestaan as die Rebel en Rats spannetjie. Wat van die mans: Loslappies? Kom bietjie hier? Lekker Lekker? En laastens dalk: Kom huistoe!
•Ohaygozaimasu, Ditashimashite, nou goed, dit is nou nie heeltemal “Spiessss” nie, maar dit is Japanees. Met Pierre Spies wat beplan om ook sy rugby in Japan te gaan speel, sal die Japanese vinnig iets moet uitdink vir Spiesss.
•Sê iemand verlede week, “houvas jou matras, Le Clos is weer los”, natuurlik met komplimente aan Robbie Wessels se “houvas jou matras De Vos is weer los”.
•Barend Vergaan het toe uiteindelik geluister, die Bulle speel weer in hemelblou blou en met ’n groot madeliefie op die bors.
•Kwagga! Die man met die skewe neus wat sy rugby by ons eie Rooies geleer het, wen goud by die Statebondspele en dit teen die All Blacks. Met lekkerkry gaan ons die week klaarkry, want die Proteas het dit Maandag opgevolg met ’n antifreeze-vertoning. (Hulle het nie gechoke nie).
•Vat ’n Cravenweekbreek om sport te kyk, was lus om na die sesde heruitsending maar weer terug te gaan werk toe.
•Daag daar die week ’n besending pap op by die man van die Bazaar, die Visvoet, Blou Bulpap. Moet ’n bitter pil wees om elke dag teen daai blou pap vas te kyk.
•Shakes, Shakes, Shakes jou Watsenaam. Sal Omie Shakes Mashaba die Bafana na die Beloofde land kan lei. Nooit! Nie as sy o/20 spannetjie teen een of ander onbenullige landjie verloor nie. Praat van agteruit boer.
•Groot trane die week in Tjietaland gewees. Hulle goue seun gaan vir die Bulle speel en hulle briekdanser (as hy ’n drie druk) gaan saam. Welkom by die Bloues!
•Lood de Jager gaan vir die Bulle se sewesspan speel. Toemaar, moenie vrees nie, dit is nie die Tjietas se Lood nie maar die Bulle se eie jong loot.
•Weer ’n vleeslike gehol gewees die week. Dis weer landloop en dit is mammas en pappas wat hulle se kele rou gil vir Jannie en Sannie wat bulte moet op en af deur die dorp se velde.
•As Bobo dit sê dan kan jy maar luister. Die gewese senter en deesdae kommentator het in die Sunday Times Sondag gesê vanjaar se Cravenweek op Middelburg was een van die bestes.
•Is Nelspruit nou die provinsie se beste rugbyskool? Met drie van sy vier spanne wat kampioene is, kan hulle seker daarop aanspraak maak. (Nou wat nou Rooies?).
•Dis Tuks en Alles. So pas ook gekroon as krieket studente wêreldkampioene.
•Sien die Proteas gaan teen Zimbabwe in ’n toets speel. Verneem betroubaar die Zimbabwe keurders oorweeg om Robert Mugabe as aanvangskolwer te kies. Hy is immers sedert 1924 nie uit nie!
•Manne met rokkies en mense met ’n Skotse brak aan ’n leiband voor in die optog. Die Skotte doen dit anders by die Statebondspele. En met Durban wat die Spele in die Zoeloe koninkryk wil aanbied, kan ons dalk tiervel karossies sien en wat se hond voor? (As dit in Nigerië is sien ons ouens met ’n hiëna voor stap).



