BlogsEditor's noteOpinion

My Beurt

Dankie Pa. Dankie dat Pa nie gevloek het nie.

Behalwe daai een dag toe pa so kwaad was en gesê het “die blêrrie man maak jou so woedend”.

Ons het gedink blêrrie was ‘n vreeslike vloekwoord.

Sit Vrydag by ‘n restaurant toe vyf mans aan die tafel langsaan jagstories uitruil. Tussen hulle sit ‘n knaap van so nege jaar – ‘n bulletjie.

Die koedoe se horings was eers so lank en toe so f… lank en hy is eers geskiet, maar later sommer gep#%!6.

So gedink aan Pa.

Sou seker ook vandag so gepraat het as dit nie vir Pa was nie.

En hoe later hoe kwater, hoe meer brandewyn, hoe kleurryker die taal – varktaal.

Dat daar vroue naby sit en die vieslike taalgebruik kon hoor, skeel die vloekers min. Dat die kind oopmond elke woord inneem, skeel sy pa min.

Van jag gaan die gesprek na vroue. En jy wonder of hulle van die diere praat wat hulle jag of van mense.

Respek?

Daarvan weet hulle blêrrie niks.

Een ou praat later Varkikaans, fff… ppp… ccc…

Hy sukkel om Afrikaans tussen die vloeke in te kry.

Mense staan op en loop weg.

Die brandewyn trek.

Die gesprek word al harder, die taal al erger.

Die seun sit afwesig.

Dis asof niemand van hom bewus is nie.

Kry hom jammer.

En eendag wanneer hy soos by die Cravenweek van die veld gejaag word, omdat hy ‘n ander speler die p-woord toesnou, sal mense wonder waar kom hy daaraan.

Wanneer hy nie ‘n gesprek kan voltooi sonder die f-woord nie, sal mense wonder waarom.

Wanneer hy sy vrou vloek, sal mense wonder waarom.

Dankie Pa.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button