My Beurt: Johann Gresse
Het die bal kwaai met die danslesse/maagspier-avontuur laat val.

Vir die afgelope twee weke is ek ernstig siek met griep/verkoue – het selfs probeer om my pa se handtekening na te maak om vir my redakteur ‘n siekbrief te stuur.
• Maagspiere: Was een keer in die gimnasium. Het ‘n hewige hoesaanval gekry, maar het dapper voortgeworstel.
Tien minute later het ek agtergekom ek is nie meer so sterk soos altyd nie. Waar ek altyd ‘n halwe pull-up kon doen, het ek gesukkel om ‘n sestiende van een te voltooi.
Twintig minute later het kolletjies voor my oë begin ronddans en my hart het net so woes geklop soos die keer toe Sarie Visagie ingestem het om my Wiskunde-huiswerk af te skryf.
Daardie aand het ek nie eens my gesondheidshamburger (met ekstra kaas) met dieselfde entoesiasme aangepak nie…
Maar elke wolk het ‘n silwer randjie en in die maagspier-treurspel, is dit my aanhoudende gehoesery.
Met elke hoes verbeel ek myself dat my maag soortgelyke inspanning as 10 opsitte moet verduur (simpatieke vriende het ook al dié teorie bevestig).
• Die danslesse moes ek elke keer nog kanselleer. Na my gimnasiumbesoek-oordeelsfout, is ek skielik baie kortasem as ek net twee treë stap. En dans verg baie konsentrasie en inspanning… Arme Vianca sit seker met haar hande in haar hare, maar ek onthou die choreografie darem (soortvan).
Maar ek is byna gesond en het genoeg Vitamine C-bruistablette om enige verkouekiem in sy spoor te stuit. Hierdie week is ek weer terug op my pos!



