My Beurt
Dis koud, so koud die voëlbak was Saterdagoggend gevries, klipharde ys.

So koud soos ons, mense, se harte deesdae is.
Ys, klipharde ys.
Ja, my eie hart.
Jana Boshoff skryf verlede week ‘n aangrypende storie oor die winter wat sy eerste slagoffer ge-ys het, verskoon die woordspeling.
Daar naby die treinspoor het die man langs sy vriend gelê, dood. Die koue winter en die versterkwater wat hy teen die koue gebruik het, was een te veel.
So slaap daar vele onder die sterre in hierde koue aande, met net ‘n dun kombersie as skild teen die natuur se aanslae.
Na haar berig gedink die dorp sal die strate invaar en komberse uitdeel, lekker warm sop.
Maar ons harte is te vol van die wêreld, so vol dat ons nie die flenter kombersie langs die pad sien nie.
Ons is oppad, haastig oppad iewers heen.
Ry Sondagoggend verby Middelburg Heights toe daar ‘n lewelose onder ‘n stuk lap lê, langs ‘n muur.
Die man lyk dood.
Ry verby, gaan die Sondagkoerante haal.
Merk nog op “dit kan nog ‘n winterslagoffer wees”.
So ry een na die ander inwoner verby, kyk, en ry aan.
Nog een en nog een…
Eers Sondagoggend skop die sluimerende gewete in.
Maak toebroodjies en drinkgoed bymekaar om te gaan aflewer, “as hy nog lewe”.
Maar langs die muur lê steeds net sy “beddegoed”.
Hy is weg.
Dood?
Ander beter skuilplek gaan soek?
Sal nooit weet nie.
Weet net daar is nog mense, mense, mense…daar buite wat koud kry, wat honger is.
En ons harte is ys, soos die ys in Saterdagoggend se voëlbak.



