Flopsport
•Frankryk rugby president se opdrag aan sy nasionale span se afrigter: Wen die Wêreldbeker in 2015 in Engeland.

Engeland rugby president se opdrag aan sy nasionale span se afrigter: Wen die Wêreldbeker in 2015.
Nieu Seeland rugby president se opdrag aan sy nasionale span se afrigter: Wen die Wêreldbeker in 2015.
Australië rugby president se opdrag aan sy nasionale span se afrigter: Wen die Wêreldbeker in 2015.
Suid-Afrikaanse rugby president se opdrag aan sy nasionale span se afrigter: Kies kwotas! (Shame).
•Heyneke kla steen en been omdat sy Bokke so oorspeel is, maar Pollard is poegaai na die junior wêreldbeker maar moet Saterdag weer sy man staan teen die Skotte. En terwyl die oorspeeldes ‘n paar randjies verdien is die helfte terug om vet euros in die sak te gaan steek.
•Dankbare Dawie. Dawie Theron moes ‘n sug van verligting geslaak het toe sy Bokkies in die eindstryd teen Engeland verloor. Ten minste sal hy nou sy werk behou en nie soos Ray Jennings gefire word nie. Sien, in die land word stakings en swak prestasie beloon en nie wanneer jy soos Jennings ‘n krieketwêreldbeker wen gefire word nie.
•Die Kyalami renbaan gaan opgeveil word. Waar ons vir Arnold Chatz en sy Alfa ondersteun het teen die brullende agt silinder Can Am Firenza en Capri Perana’s, waar ons gesien het hoe jaag Jody Scheckter met sy rooi Ferrari tot wêreldkampioen, waar Formule Ford en Formule V vir vele ongelukke gesorg het in ons gunsteling draai, Crowthorne, ons tentjie staangemaak is in die binnekant van die baan vir die gewilde Nine Hours…en waar ons grootoog die eerste keer twee kaalnaelers gesien het…daar sal seker eendag geboue staan. (O, ja en later was Emerson Fittipaldi my man).
•Televisie in 1976 was groot. Die eerste toetsuitsendings, die eerste televisiestelle, die eerste rugbyuitsendings. Sommer daar by die naaste meubelwinkel het jy neus teen die ruit na die gedoente gestaan en loer.
Die tegnologie was maar eina en jy moes mooi kyk om jou gunsteling speler te eien, wat eerder soos ‘n hollende mier gelyk het. As jy ‘n kleurstel gehad het was jy in.
Daar was Redding Internasionaal, The World at War, Pop Shop, Night Rider en The A-Team. Met die vierde salaris vir Ma-hulle ‘n kleur Telefunken gekoop… ons lewe was nooit weer dieselfde nie.
Toe Gerrie Coetzee laataand teen Leon Spinks geboks het was ons vasgenael voor die Telefunken. En toe Gerrie vir Spinks deur die toue klits, word daar so gegil dat pa benoud uit die kamer storm.
Vrydag is die grootskerm by HTS Middelburg aangeskakel in kleur en beeld…sport by die skool gaan nooit weer dieselfde wees nie.
•Wanneer jy na die name en vanne kyk van die Belgiese en Hollandse sokkerspanne besef jy net weer dat ‘n paar van hulle voorsate saam met oom Jan op sy skepies was, oppad na Sandy Bay. Daar is Toby Alderweireld, Thomas Vermaelen, Jan Vertonghen, Daniel Van Buyten, Anthony Vanden Borre en Kevin De Bruyne. In die Hollandse span is dit Daryl Janmaat, Nigel de Jong, Arjen Robben, Wesley Sneijder, Klaas-Jan Huntelaar en Dirk Kuyt. Nee, Marouane Fellaini se familie was nie saam op die skip nie.
•Verneem ‘n luukse toerbus is spotgoedkoop te koop, die een wat die Engelse sokkerspan in Brasilië moes vervoer.
•Blou week vir die Bulle. Jacques du Plessis breek sy kakebeen, Flip (Rooikaart) van der Merwe beseer sy knie en Paul Willemse vat die pad Frankryk toe.
•Kyk hoe kyk hulle vir my! Kyk weer, kyk weer, kyk weer! Gedink Steve Walsh wil weer na die spel kyk? Hy kyk vir homself op die groot skerm. Waarom dink julle vra hy elke keer ‘n skoot van links, ‘n skoot van regs en ‘n skoot van bo? Lief vir homself. (Gee my ‘n skoot van onder dié man).
•Van grond na gras. Maar weer Nadal? Of gaan hy gras vreet? Gelukkig het Kevin Anderson nie teen Vasselin gegly nie. (Vasselin is ‘n Franse speler).
•Ja swaer, as ‘n hond eers eenkeer gebyt het sal hy weer byt, wanneer ‘n bul draad gespring het, sal hy weer spring en Squarez bly byterig.



