BlogsOpinion

My Beurt

Dit was tydens die Sudwalagrotte se Kristaltoer waar ek agtergekom het dat ek maar taamlik tweedimensioneel van aard is.

Want bo-gronds pla hoogtes my en ondergronds sukkel ek met dieptes (snaaks genoeg glad nie engtevrees nie).

Om vir vyf ure in stikdonkerte in tonnels (sommiges seker laer as 30cm en nouer as 70cm) rond te kruip, is terselfdertyd so lekker as wat dit sweet-tap-kommerwekkend is.

Hier volg my grot-oorlewingsgids:

• Kry vir jou ‘n ordentlike flitslig.

Rede hiervoor, dis donker in ‘n grot.

As galante jongerige man leen ek my koplampie vir die meisie in die geselskap; in ruil hiervoor kry ek toe een van daardie handaangedrewe flitsligte.

Na 10 minute het ek egter die wysheid van my galante gebaar bevraagteken.

Mens het jou hande nodig om die klouter en te kruip. En dis vrek moeilik om dié aksies doeltreffend uit te voer met ‘n hengse flits in jou hand.

• Laai jou flits se batterye.

My beginnersfout vir die dag. Bogenoemde koplampie (toe stewig op bogenoemde meisie se kop gemonteer) se liggie het al hoe flouer begin skyn. Sondagskooljuffrouens het ons teen die gevare van ‘n kwynende lig gewaarsku: die wêreld word gou donker en in ‘n grot is dié proses soveel vinniger.

Het toe maar weer flitse teruggeruil.

Die gevolg van die transaksie is dat ek die laaste 40 minute van die toer so blind soos ‘n mol was.

Gelukkig het ek supersoniese gehoor en kon danksy die ander se gelag hoor én voel wanneer ek in rotse vaskruip.

• Sorg dat jy die een is wat intelligente vrae vra; mense kry respek vir jou.

Tydens een van die gereelde maag-intrek-borskas-afblaas-benoude-kruip-roetines, vra ek die toergids of die ekspedisie veilig vir ‘n Wonderbra-model is. Duidelik het ek die man vele stof tot nadenke gegee, want hy het my nie geantwoord nie.

Dit is belangrik om hier te noem dat hy die geologiese vrae onmiddellik kon beantwoord.

• Wees bewus dat dieptes net so erg as hoogtes kan wees.

Gedink hoogtevrees pla jou nie in ‘n grot nie? Dink weer.

In groterminologie is daar net ‘n ander sesletterwoord vir hoogte: diepte.

Op ‘n stadium moes ons oor ‘n skeur klouter en dit het vir talentvolle maneuvers geverg.

Met jou rug teen die rotsmuur vasgepleister, moet jy al skuifelend nader aan die skeur beweeg.

By die skeur aangekom, moet jy so swaaibeweging uitvoer wat beteken dat jy jou een hand en voet moet losruk van die “veiligheid” van die rotsmuur.

Onthou dit was ‘n intense oomblik vir my.

Die positiewe punt is dat die hele geselskap kon rus terwyl ek die moed bymekaarskraap om daai geloofsprong te neem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button