Flopsport
Speel Ben Viljoen teen Generaal Hertzog. Die onder vyftiens het skitterend gevaar, daai span uitstekend en daar eindig dit. Hoe het die eerste span gevaar? Stilte! Groot geheim.

En dan moet jy weet hulle het verloor. So kry jy Maandae berigte dat die skaakspan die naweek fantasties was, agt van hulle tien wedstryde gewen. En die skool se eerste rugbyspan? Stilte.
•Saterdag kry jy ‘n sms, Tegnies het verloor teen EG Jansen en so ook twee ander ouderdomspanne. Dit wil mos nou gedoen wees, wen of verloor, sê dit, dis mos geen skande nie.
•Bel ‘n ouer van van ‘n vooraanstaande Pretoriase skool met uitasem opgewondenheid, hy kyk rugby op Tzaneen en het nog nooit ‘n skrumskakel gesien met soveel kwaliteite nie. ‘n Borg is reeds gebel en die skrumskakel begin Maandag in Pretoria. En dit is teen daardie agtergrond wat Middies en Tegnies se prestasies gemeet moet word. Hulle baklei saam met die groot honde in ‘n hok van duur akademies en miljoene rande wat koop wat hulle wil hê.
•Dit gaan deesdae so vreedsaam met die Classic Clash dat jy amper lus is en stap met ‘n groen trui by HTS Middelburg in of met ‘n rooie by Middies.
•Gooi hom Bokkie! Bêkfluitjie klanke het Maandag oor die stille terrein van die Rooies weerklink met ‘n konsertina in die agtergrond…of was dit ‘n trekklavier? (Saterdag gaan een span die Hartseerwals hoor).
•Elize Kotze? Het jy gewonder. Die eerste vrou wat by die Classcic Clash as spreker opgetree het. En dit nogal ‘n netbal tannie, agge nee. Daar gee sy een van die beste toesprake wat nog ooit by so aand gelewer is. Kinders en ouers, hoop julle het baie mooi geluister.
•Fel stryd wat in die Superreeks woed. Dan is die Stormers laaste en dan die Tjietas. Tans is dit die Stormers. Wie gaan as wenner gekroon word?
•Sies julle Manchester United ondersteuners. Juig toe julle Noisy Neighbors wen en te bly dat dit nie Liverpool is nie.
•Terwyl die dorp Saterdagoggend in rep en roer is gaan twee eensame drawwers die pad vat na Loskopdam. Hein Koch en Ernst van den Berg gaan hulle eie Loskop post wedloop hardloop.
•Nogal hartseer dat die lekker sewes rugby partytjie verby is. Dit het twee gala-aande en twee jaarlikse lekker rugbydae verseker. Maar dis ook darem nie reg dat die Bokke hulle “Emergency span” wou bring nie.
•Ai en die riemtelegramme. Skaars is die dag afgelas en die storie word vertel dat al daardie geld spandeer gaan word aan ‘n elektroniese telbord by HTS vir die Cravenweek. Verneem van ons betroubare bron dat Middies en Tegnies albei wel mooi elektroniese telborde gaan kry, maar dis nie die sewesgeld nie.
•Woensdag speel Rooi en Groen se seuns dat dit klap en jy sien net wit hokkieballe trek. Die pawiljoene is gepak, dis ‘n see van gesigte, dis so mooi. Langs die veld verbeel jy jou Dolf se trok het weer herrys. Maar nee, dis maar net Middies se onnies wat die beste uitsig vir die middag het. Miskien moet ons ou Dolf een jaar vereer, want hy het darem baie kleur aan die dag verleen en Oom Pottie se bloeddruk opgejaag wanneer hy met sy ou plaastrok langs die veld gestop het.



