BlogsEditor's noteLettersOpinion

My Beurt

Daar is nou één ding waarvoor ons ou familietjie bekend is: sentiment en die versamel van allerlei onbruikbare artikels wat ons “hou want dit het aan daardie tannie of ouma behoort!”

Ek sal nie uitbrei oor ander familielede nie (netnou neem hulle aanstoot), maar ek moet hand in eie boesem steek as dit kom by die sentimentele goedjies.

Jy sal verstaan as jy my muureenheid sien!

Op die een rak staan glaspoppies en beeldjies wat die jonges sal laat giggel. Die een is ’n swart olifantlampie wat uit my een ouma se “showcase” kom. Nog met sulke goue uitgroeisels wat natuurlik sy tande moet wees.

Skuins onder hom is twee katjies in ’n staander wat heen en weer beweeg. Nogal pienk en groen met “Salt” en “Pepper” op hul pensies.

Die dik pot met die reuse snawel was op ’n tyd ’n lekkergoedhouer. Die voël se kop het lankal gebreek en het net die snawelgedeelte oorgebly. Hoekom ek hom hou? G’n mens weet nie! (Ek dink ek het dit nog “many moons ago” by my kollegas gekry toe ons nog geskenke vir mekaar gekoop het!).

Dan praat ek nie eers van die geverfde borde op die staanders, die marmer hond met die lang stert en die vuilwit engeltjies wat so twee-twee op die rak staan nie.

Maar dit is nie net ons familie wat goedjies versamel en uitstal vir stof om op te vergader nie.

Net nou die dag stap ek by ’n huis in waar ’n bejaarde vrou besig is om haar goedjies uit te sorteer, want sy moet in ’n kleiner woonstelletjie in.

Sy vee trane af, terwyl sy besig is om ’n onsigbare stoffie van ’n beeldjie af te probeer vee. “Hierdie beeldjie het ek aanmekaar geplak nadat hy geval het. Ek het hom by my vriendin gekry kort voor haar dood 34 jaar gelede.”

In die kombuis hang nagemaakte plastiekgroente teen die muur en skreeusnaakse vet paddatjies staan in ’n bord. “Dit was my ma s’n. Sy het dit vir my gegee toe ek 40 jaar terug getroud is.”

Die leë blikke doer bo op die kombuiskas vertel elkeen ’n storietjie, vanaf die meelblik uit vervloeë se dae tot die nuwe Joko-blik wat heel bo-op gestapel is.

Sy lag verleë oor die interessante drankbottels op ’n ander kas. “Ons het dit nie self gedrink nie, maar dit was vir my so mooi, dat ek dit by mense gevat en daar gesit het.”

Die onthouliggies gaan aan as sy stap na elke tapisserie en gevlegde “makramie” teen die muur en die houtperdjies op haar ouma se wakis.

“Hoe pak jy 50 jaar se onthou in ’n paar bokse en gee dit net weg?” vra sy die vraag waarvoor ek ook geen antwoord het nie.

Terug by die huis vroetel ek met die pienk eend en vryf ingedagte oor die koperketeltjie wat ouma vir my gegee het sowat ’n jaar voor haar dood. Wie sal ooit weet hoeveel goeie tye ek en sy saam gehad het?

Ek steek voelers uit na my kinders en vra wat hulle eendag met dié goedjies gaan doen as ek my huisgoedjies moet opgee, waarop een antwoord: “Ag nee Ma, pak die goed nou al in ’n boks en gee dit weg! Ons soek nie daardie kaggeltwakkies nie!”

Simpel kaggeltwakkies vir hulle, maar goue herinneringsornamente vir my.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button