
Sy is nou al ‘n rukkie oorlede, maar steeds ruik ek die koekies wat sy jaarliks gebak het en elke keer as ek ‘n groot wit emmer sien, dink ek aan die gemmerbier wat sy aanmekaargeslaan het. Toegegee, die gemmerbier was nie ‘n universele treffer nie en was dikwels met die weduwee se kruik vergelyk: dit wou net nie opraak nie, maak nie saak hoeveel glase se inhoud jy skelm in die blompot langs jou stoel probeer versteek nie. Onthou hoe die oorblywende – en gissende gemmerbier – soms vir baie vrolike nuwejaarsaande gesorg het!
Elke Desembermaand wanneer haar R900-staatspensioen inbetaal is, moes ek haar Shoprite toe neem om vir die magdom bedorwe kleinkinders “iets kleins” te koop. Dit het soms ure geneem. Ek het die gevolg gelei met my winkelwaentjie vol goedkoop plastiekkarretjies en inkleurboeke, terwyl Ouma al waggelend met haar eie Shoprite-waentjie agterna stap. Sy’t egter haar waentjie as stut gebruik om regop te bly en moes gereeld stop om ‘n aantekening langs ‘n familielid se naam in haar klein swart notaboekie te maak.
En – al was ek groot en uit die huis – het ek steeds na elke besoek aan die winkels ‘n TV Bar en Coke gekry om dankie te sê dat ek haar geneem het.
Die week of wat voor Kersfees word daar altyd rondgeskarrel om nog R30 se fynbiltong en soutkoekies te koop “sodat die mense darem iets het om aan te peusel”.
Maar tog waardeer jong mense en kinders nie altyd alles nie. Onthou hoe haar klein en opregte geskenke dikwels geïgnoreer was, terwyl daar met blink oë en opgewonde hande na die Playstation of radiobeheerde kar gegryp word.
Ek het self meer as een keer met totale afgryse na van Ouma se geskenke gekyk – die gevreesde onderbroekgeskenk. Enige tiener se grootste nagmerrie. En gewoonlik was dit ‘n paar sizes te klein.
Onthou hoe Pa altyd omtrent van sy stoel afgeval het van die lag en terwyl hy die trane uit sy oë vee, hy my met die volgende woorde bemoedig: “Moenie worry, dit sal seker in die wintermaande pas!”
Maar Ouma het elke Kersfees probeer spesiaal maak. En dit is ‘n baie spesiale tyd.
As daar een ding is wat sy my oor Kersfees geleer het, is dat nie die grootte van die geskenk is wat saak maak nie, maar die grootte van die hart wat die geskenk gee. Ons het immers reeds die grootste Geskenk gekry.
Geseënde Kersfees!



