
Dit was die jare van apartheid, die Nasionale Party, die Verenigde Party en later die Herstigte Nasionale Party.
Daar was die Nasionaliste, die Engelse en die Regses.
Dit was soos Noord-Transvaal in sy gloriejare – altyd net een wenner, die Nasionale Party.
Onthou hoe Ma en Pa bespiegel het hoe ver gaan John Vorster weer die jaar wen.
Apartheidsjare!
As jy wit was kon jy stem.
As jy die Verenigde Party ondersteun het was jy Engels, “’n verraaier”.
Die golf van verandering het stadig maar seker deur die land begin spoel. Saam met dit het die weerstand gekom en die verrysing van die Reges – die Konserwatiewe Party.
Die arme Hertzogiete en Jaap Marais was nog altyd daar, maar soos ’n keffertjie, sonder impak.
Doktor Andries Treurnicht en die KaaPee (KP) was skielik ’n mag om mee rekening te hou.
Deur die land en op dorpe soos Middelburg het hulle steun onder wit Suid-Afrikaners gegroei hoe groter die “swart gevaar” geword het.
Klipstapels is by die Kees Taljaard Stadion gepak as simbool dat wit oorheersing sal voortleef.
In die dorp se stadsaal is die ANC hardhandig van die verhoog geboender.
Die Middelburg Observer het een oggend in 1991 ’n galgtou by sy voordeur gekry met die woorde: “Volksverraaier”. Ons sonde was ’n berig wat voorspel het die dorp sou in die toekoms ’n oop gemeenskap wees, waar almal saam leef, werk en woon, saam op sportvelde meeding en saam na ’n restaurant kon gaan.
Die golf van verandering het in reuse branders verander en in 1994 rustig op ’n nuwe Suid-Afrika uitgespoel.
Ook die geboorte van ons laatlam.
Die tyd van die ANC het aangebreek.
Daar was nie meer plek vir die KP en die Herstigte Nasionale Party nie.
Die Nasionale Party en Kortbroek van Schalkwyk kon nie die golf oorleef nie.
Die Verenigde Party en later Progressiewe Party, die Engelse soos hulle gesien is, het ’n nuwe baadjie gekry, die DA.
Die Vryheidsfront? Al probeer dr Pieter Mulder en boetie Corné hoe hard het hulle steeds die karakter, volgens kiesers, van die ou Suid-Afrika, die een wat verby is.
Staan Woensdagoggend opgewonde op – die Born Free gaan die eerste keer stem.
Stem in ’n vry land.
Kruisies sit nie brood op die tafel nie, gaan nie keer dat miljoene van ons belastinggeld vermors word nie, sal nie misdaad keer nie.
Maar ten minste kry ons almal, wit, swart, bruin, ’n kans om deel van die demokratiese proses te wees.
Born free? Live free!



