
Ontnugterde Bul ondersteuner skryf:
Liewe Oom Frans Ludeke.
Dit is al ’n maand dat jy ons belowe dat die span net ’n paar verstellingkies nodig het.
Daarvan het bôkkerol gekom.
Duidelik weet julle niks van verstellings nie.
Oom, hier op Middelburg is ’n mechanic, sy naam is Fanie. Hy ken van verstellingkies. Hy kan ’n Beetle verstel dat hy soos ’n Porche rev.
Laat hy asseblief help, asseblief Oom!
Verduidelik ook vir ons wat maak Pieter Rossouw as agterlynafrigter. Die enigste moves wat ons sien is wanneer julle in en uit die afrigterhokkie in en uit move.
Wie is nou die aanvalsafrigter Oom? Victor? Is hy kaptein, afrigter en konsultant? Kan Oom asseblief dat hy beter verduidelik van aanval dat die spelers verstaan. Soos: “Joenou, luister mooi, moenie val nie, val aan, met ander woorde, knyp die bal onder jou arm vas daar by jou kieliebakkie, moenie lag nie, hardloop nou twee meter in die rigting van die ander span. Nee man, nie in die rigting van die groen span nie”.
Is daar nie iets anders as julle rolmaal om aan te val nie? Julle maak dat ons op die mat rol en dan mal word. (Ons noem dit rolmal). Dit moet seker nie lekker vir die spelers wees om tagtig minute so in mekaar se foefe@^& vas te kyk nie. (Hulle wil met die bal hol oom, oom verstaan? Hol!).
Oom het na die eerste nederlaag gesê daar wag ’n deurbraak. Die enigste deurbraak tot dusver is dat julle so vrot speel dat ons deurentyd braak.
Ons wil vandag vir Oom en vir Barend Vergaan waarsku! As julle Saterdag teen die Tjietas verloor, wag daar ’n yslike eis vir pyn en lyding op julle. Ons het nie net goeie mechanics op Middelburg nie. Hier is ’n prokureur wat klink asof hy met Gerrie Hel gekloon is en hy staan reg om ons saak te stel.
Wat meer is, is dat jy en Mnr. Vergaan die kostes gaan betaal vir Cesar Millan se besoek aan ons dorp. Die labrador kap Saterdag na Saterdag soveel stres, van die kabaal vanuit die sitkamer, dat net Cesar haar kan red.
“Fetch!” “Fetch!” sê Cesar vir sy honne dan gaan haal hulle die bal. Waarom kies julle twee Deense honne wat as jy sê “Fetch” stert vasknyp? Baljagter in suiwer Afrikaans. Waar is jou baljagter Oom?
Ons het beplan om te toi-toi, maar na een oefening is dit afgestel. Oom sal verstaan. Dis nie ’n mooi gesig as tien bulle met boepense en horings op die kop probeer toi-toi nie. (Oom kry die prentjie?).
Sien Oom sê julle gaan die seisoen omkeer. Oom verstaan wat beteken omkeer? Hier is ’n goeie Afrikaanse onnie wat oom kan help. Haar naam is Friena. (Die labrador het Saterdag toe ek buite kom en julle het weer verloor, dadelik op haar rug omgekeer).
Daar is nog baie ander slim mense ook op Middelburg. Praat net, ons sal help.
Sterkte vir die seisoen verder.
•Ons arme president Zuma. As dit nie stort is nie, is dit Nkandla, sy vele vroue of sy sokkerbaas vriend wie se dogter hy swanger maak. Swaar om president te wees. Nou word hy kwalik geneem vir die Bulls se gesukkel. Stuur iemand Saterdag ’n sms vol “kleurryke” woorde: “Dit laat my aan Zuma en sy !@& dink. Hulle !&* rugby op soos Zuma die land &!(!8”. Eish my kroon!
•Speel die “Last taptoe” Saterdag somber voor die afskop. Tart Mammie vanaf die ander rusbank: “Dis vir die Bulle”.
•Waarom skeur soveel rugbyspelers deesdae hulle biseps? In die ou dae het spelers nie biseps gehad nie, net spiere.
•En dames en here in die laaste plek het ons? “Die Stormers!”.
•Die Burger gaan glo hulle plakkate wat lees: “Storm hulle Stormers” verander na “Stomme Stormers”.
•Vermon as ’n rooi kous by Middies se oudleerlinge oefeninge opgedaag. Kan rapporteer dat beserings reeds sy tol eis, al word alles in stadige aksie uitgevoer.
•Piesang, piesang, poppo. Die toeskouer wat gedink het hy maak Dani Alves van Barcelona se naam aap toe hy hom met ’n piesang gooi, in ’n rassistiese voorval, het toe van homself ’n poppo gemaak. Alves het die piesang in sy kieste gedruk en ’n perfekte hoekskop geloods. Sy spanmaats het intussen foto’s geplaas waar hulle self met monde vol piesang sit. Dink net as ons in Suid-Afrika ’n Kentucky hoenderboudjie op die veld gooi. Chaos! Een helse geveg.
(Joenou is Jono Os, skuus, Ross).



