Local newsNews

Skool sê dis ‘bogstories’

Skokkende bewerings van mishandeling by Kleuterskool Breintjieland het die week na vore gekom, nadat 'n ma beweer het haar kind is deur 'n onderwyseres gebyt, gestraf deur vir ure sonder water in die hoof se kantoor moes sit, en ook dat hulle verskeie kere met merke by die huis gekom het as gevolg van lyfstraf.

Adel Janse van Rensburg het reeds in die hof verskyn, waar sy aangekla is van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Daar word beweer dat sy ‘n vyfjarige seuntjie blou geslaan het met ‘n plank by die kleuterskool.

Sy is vrygelaat op borg en moet weer mid-November in die hof verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

“Ek voel beter vandat ek die ding van my hart af gekry het. Dit is nie dat mens vindictive is nie, eerder dat ek voel mens moet praat om die ouers wie se kinders steeds daar is, te waarsku,” vertel die ma wat haar kinders ‘n paar maande gelede uit die skool gehaal het.

Die ma sê dat sy begin onraad vermoed het toe ‘n onderwyseres by die skool vir haar gesê het dat sy besluit het om daardie selfde dag klaar te werk en nie weer terug te kom nie, omdat sy nie saamstem met wat by die skool gebeur nie. Die volgende dag was die juffrou skoonveld.

Sy meen dat daar ‘n drastiese verskil in haar kinders se gedrag is in die paar maande wat hulle in ‘n nuwe kleuterskool is. Sy sê ook dat mens die verskil in hul liggaamstaal duidelik op skoolfoto’s kan sien.

In die tyd wat haar kinders in die skool was, beweer sy dat ‘n juffrou haar seuntjie gebyt het, haar dogtertjie gestraf is deur vir ure sonder water in die hoof se kantoor te moes sit, en ook dat hulle verskeie kere met merke by die huis gekom het as gevolg van lyfstraf.

Sy het haar kinders uit die skool gehaal toe haar dogtertjie met blou hale by die huis aangekom het.

In die tyd wat haar kinders by die skool was, het sy verskeie kere met die ondewysers probeer praat oor dinge wat haar gepla het. Sy sê dat hulle haar gedreig het met die welsyn.

Toe haar dogtertjie vir haar kom vertel hoe ‘n ander juffrou haar seuntjie deur die gesig geslaan het en toe in die klas ingesleep het, het die juffrou haar kind beskuldig dat sy ‘n “skinderbek” is.

•Kleuterskool Breintjieland se hoof, Charmaine Pieterse, sê dat die beweringe belaglik is en dat dit kwaadwillig gemaak word deur ‘n ouer wat die skool bykans R20 000 se skoolgeld skuld.

Nadat die ma sekere beweringe gemaak het, het Breintjieland se bestuur aanbeveel dat sy ‘n sielkundige verslag skool toe bring om dit te staaf.

“Toe sy dit nie bring nie, toe sê ons dat ons dink dit is beter dat hulle nie terugkom nie. Dit is hoekom haar kinders uit die skool is.”

Mev. Pieterse sê dat die ma “maller as ‘n haas” is en dat sy opnames van gesprekke tussen hulle het waar sy kwaai gepeper is met gekruide taal.

Oor die aanrandingsaak wat tans hangende is, sê mev. Pieterse dat die voorval nie by hulle gebeur het nie.

“Dit was na ‘n naweek. Dit kon enige plek gebeur het. ‘n Skool is nou maar eenmaal ‘n sagte teiken om die skuld op te pak.”

Die skool het intussen kameras in hul klaskamers laat installeer.

Breintjieland se prokureur, Martie Prinsloo, het bevestig dat die betrokke ma die skool in die omgewing van R20 000 se klasgeld skuld.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button