Opvolg: Beeste oral, maar niks om te vreet
Die vrektes van beeste tussen Avalon en Botshabelo is nie 'n geïsoleerde voorval rondom Middelburg nie, en aan Uitbreiding 5 se kant van Mhluzi, as ook Tokologo, sal daar ook ondersoek ingestel word na die toestand van diere.
Nadoodse ondersoeke wat op die Avalon karkasse gedoen is deur die staatsveearts, dr. Shepard Matema, wys egter dat daar nie siektes onder die diere is nie.
Wat wel in die pense gevind was, was rommel wat wissel van plastieksakke tot nylon-tou.
Die Dierebeskermingsvereniging soek al die afgelope twee weke na die eienaars van die beeste, en die aantal krale dui daarop dat daar veel meer eienaars is, as die ure in die dag wat gebruik kan word om almal op te spoor. Meer as 200 beeste wei in die oorbeweide area.
Volgens me. Petro Oberholzer, senior DBV inspekteur, kan daar nie ‘n lasbrief verkry word vir die verwydering, of die vankant maak van die beeste nie, alvorens waarskuwings nie op die eienaars beteken is om die diere te versorg nie.
Nietemin het sy reeds begin om die eienaars wat sy kon opspoor, oor die diere se versorging te onderrig.
“Partymaal is ‘n sak meel die verskil tussen lewe en dood, veral vir kallers,” sê me Oberholzer.
Sy meen egter dat nie al die beeste op die dood se drumpel staan nie, en sommige van hulle sê sy is lekker vet, en bale voer kon plek plek opgemerk word.
“‘n Verdere probleem is dat die area vir onwettige rommelstorting gebruik word, en dit duidelik nie ‘n landelike gebied is nie, dus moet die munisipaliteit ingryp en weiding staak, of alternatiewe weidingsareas vir die beeste aanwys,” sê me. Oberholzer.
Volgens die munisipaliteit is daar wel talle weidingskontrakte met bestaansboere aangegaan, en is die landboudepartement ook reeds genader vir alternatiewe grond, omdat nuwe boerderye daagliks ontstaan.
Die area waar wettiglik gewei kan word strek van Uitbreiding 5, al agter Mhluzi verby, tot by Newtown.
“In hierdie weidingsarea word die vee wel getel om vas te stel watter weidingsareas aan die boere, teen watter huur per maand beskikbaar gestel word,” sê die munisipale kommunikasiehoof, me. Prudence Magutle.
“Dit moet egter gesê word dat die Steve Tshwete Munisipaliteit nie landbouspesialiste is nie, en fokus op dienslewering, daarom konsulteer ons met die nodige departemente, wie se personeel, soos die staatsveearts, ook na die tafel moet kom,” sê me. Magutle.
Intussen sal die DBV steeds na die welstand van die beeste omsien, tot ‘n gesamentlike forum geskep word, waarop die munisipaliteit, DBV, betrokke staastdepartemente en die boere, verteenwoordiging sal geniet.
Lees meer hier:
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!



