Vals mynposte geadverteer
Werksoekers het die afgelope paar maande al duisende rande betaal vir vals vakante poste wat deur swendelaars onder Shanduka se naam geadverteer word.
Die bedrieërs plaas advertensies vir vakante poste op internetverskaffers soos OLX en Brick 7, waar hulle enige poste, soos operateurs, adverteer.
Dit is hier waar die werksoekers in die strik trap. Daar word van hulle verwag “om ‘n sekere bedrag te betaal vir die dokter om jou medies te doen.” Die werksoekers moet tussen R600 en R4 000 vir hierdie “ondersoek” inbetaal. Daar word selfs vir hulle “onderhoude” gereël.
Daar daag soms tot 10 mense van dorpe soos Groblersdal, Dullstroom, Middelburg en Kinross per dag by Shanduka se Menslike Hulpbronne kantore op wat sê dat hulle “reeds betaal het vir hul medies en daar is vir die werk.”
Sommige is omgekrap as hulle verneem dat daar nooit ‘n ‘n pos geadverteer of onderhoude gereël is nie. Wat hartseer is, is dat van hierdie desperate werksoekers soms hul laaste geld gebruik het om vir die “poste” aansoek te doen.
Mnr. Zirk van der Bank (Operasionele Direkteur, Shanduka) het uitgeroep “dit is buite ons beheer! Ons probeer hierdie bedrieërs opspoor. Hulle gebruik ons naam onwettig. Dit is bedrog!”
Hy het gemeld dat hulle al in die Middelburg Observer en sy susterskoerant, die Witbank Nuus, advertensies geplaas het om mense teen hierdie swendelaars te waarsku.
“Ons vra nie geld vir werk nie. Jy moet tog weet dat jy nie hoef betaal om by ‘n plek te gaan werk nie, hulle moet jou betaal. Jy hoef ook nie te betaal as jy gaan vir die mediese ondersoek (rooikaart) nie!”
• Mnr. Werner Otto (Sekuriteitsbestuurder) sê dié probleem het in Februarie begin. Hy sê dat dit egter al vir jare ‘n algemene probleem by myne is.
“Mense is egter só desperaat vir werk, dat hulle nie logies dink nie. Die oomblik as iemand jou geld vra, dan moet jy wéét daar is fout!”
Hy het genoem dat daar by ‘n ander myn meer as 3 000 mense weggewys moes word oor dieselfde probleem.
“Dit is verskillende groepe wat toeslaan.”
• Mnr. Otto en sy span het ‘n paar maande gelede drie swendelaars vasgetrek in OR Tambostraat wat operateur opleidingsertifikate vir R2 000 ‘n sertifikaat verkoop het. “Ons het begin agterkom die mense wat as operateurs aansoek doen vir werk, nie die werk kon doen nie en dit het ons na dié groep gelei.” Hy het gesê dat hulle reeds in die hof verskyn het, maar nie hul borgvoorwaardes nagekom het nie en sedertdien weer gesoek word.
• Enige persoon wat inligting het oor die bedrieërs kan mnr. Otto bel by 073 894 6186 of Abraham Masete (ondersoeker) by 079 694 6062.



