Dokter sit deurrukkers agterna
Deurrukkers het hul boeglam geskrik toe die fikse marathonatleet en ortopeed, dr. Anton de Munnik, hulle agterna sit en een plattrek.
“Ek was die volgende dag lyfseer, want ‘n mens is nie gewoond om só vinnig te hardloop nie!” het dr. De Munnik na die gebeure gesê.
“Ek het die kar net daar gelos, met my rekenaarsak en ander belangrike artikels nog in die voertuig!”
Dr. De Munnik het Donderdagmiddag omstreeks 15:50 by die verkeerslig by KFC (hoeke van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat) gestop. Hy was so derde van voor in die ry.
“Ek het kort vantevore met iemand oor die selfoon gepraat en het die foon sommer langs my op die sitplek neergesit. Ek het net klaar gewerk en was moeg en het nie juis opgelet wat buite aangaan nie.”
Die volgende oomblik het die bestuurderskant se deur oopgevlieg. Dr. De Munnik het in ‘n struweling met die deurrukker betrokke geraak. Terwyl hy gespook het om sy deur toe te pluk, het die voorste passasierdeur ook oopgegaan.
Hy het dadelik besef wat aan die gebeur is en het gegryp na die booswig by die passasiers-kant se arm maar misgevat en gesien hoe die dief blitsig sy selfoon gryp en laat spaander.
Sonder om te dink het dr. De Munnik uitgespring en hulle agterna gesit. “Die ouer een het moeg geword en ek het hom ingehardloop, die ander een was egter te vinnig. Ek het die hele tyd geskree: ‘Keer hom! keer hom!’ maar niemand het gehelp nie.”
Dr. De Munnik was nog besig om die een dief te vang, toe ‘n polisievoertuig van Skof A hom te hulp snel.
Die booswig is gearresteer.
Dr. De Munnik is terug na sy kar waar hy gesien het dat dit nog in die middel van die pad staan én die deure oopstaan. “Gelukkig is daar niks anders uit die kar gesteel nie.”
Hy het sy Ipad gegryp en die toepassing (App) afgelaai waarmee ‘n mens jou selfoonseine kan volg (‘Find my Iphone’).
Die Ipad het dadelik die selfoonsein opgetel en dr. De Munnik en die polisielede het dit per voet agtervolg.
“Die polisiemanne was ongelooflik. As ons die sein in ‘n winkel kry, het hulle dadelik die deure laat toemaak, die musiek laat afsit en gesê ek moet die selfoon bel. Dit is dan wanneer ons gesien het dat die selfoon weer aan die beweeg is buite en ons is agterna. Hy het ons natuurlik die hele tyd gesien.”
Die sein het hulle in die rigting van die Picadilly sentrum geneem, waar hulle die sein by ‘n wegneem-ete winkeltjie langs die parkeerarea gekry het.
Die eienaar van die winkel was aggressief en het gegil: “I don’t have your phone!” terwyl hulle die plek deursoek het.
Die sein het nie beweeg nie, wat ‘n aanduiding was dat die selfoon wel in die omgewing was. Dit het egter nie in die winkel gelui nie.
Toe hy en die polisie buite kom, het hy besluit om nog één keer die selfoon te bel, waarop hulle dit duidelik hoor lui het, maar nie kon sien nie. Dr. De Munnik het agter die klank aangeloop waar hy die selfoon verberg in sand, onder papiere op die sypaadjie naby die winkel gekry het. Hulle vermoed die dief het die selfoon daar versteek om dit later te gaan haal.
• Dr. De Munnik wil graag die polisiemanne bedank wat hom vir meer as twee ure help soek het, asook vir hul hulp later by die polisiestasie.
• Hy het die dag van die diefstal met sy ouer voertuig gery, wat se deure nie self sluit nie en hy het dit ingedagte oopgelos.
• Dit is die derde keer die afgelope paar jaar dat dr. De Munnik die slagoffer was van soortgelyke gebeure. ‘n Paar jaar gelede is sy selfoon voor die hof gesteel. Drie maande gelede is sy kardeure ook oopgepluk by ‘n verkeerslig. “Hulle het die deure oopgemaak en ingekyk. Toe hulle niks waardevols in die kar sien nie, het hulle die deure net weer toegemaak en doodluiters weggestap!”
• Mxolisi Mnguni (31), van Thembisa in Mhluzi, het in die hof verskyn op ‘n klagte van roof met verswarende omstandighede. Borg van R500 is toegestaan en Mnguni sal later in Augustus weer in die hof verskyn.
• Daar is die afgelope drie maande verskeie kere oor die deurrukkers geskryf. Vroue was gewoonlik die slagoffers. Tydens een voorval het ‘n motoris in Walter Sisulustraat met sy wapen op die deurrukker losgebrand. Die booswig het egter gevlug.



