R750 000 voordat peuter kan hoor
'n Ouerpaar moet dringend R750 000 bymekaar probeer maak sodat hul tweejarige dogtertjie kan hoor.
Me. Willa Deysel sê hulle het in 2013 vir klein Widja aangeneem. Sy was net ses maande oud toe hulle die verdoemende nuus hoor dat Widja doof is. Hulle het die sterkste gehoortoestelle gekry, maar sy is egter steeds erg gehoorgerem.
Die Universiteit van Pretoria se Kogleêre Inplanteenheid het hulle in kennis gestel dat Widja ‘n geskikte kandidaat vir ‘n kogleêre inplanting is. Die kanse op sukses is baie hoog, mits die operasies (beide ore moet gedoen word) voor die ouderdom van drie jaar gedoen word.
Die Deysels het egter nie ‘n mediese fonds nie en die operasie gaan R750 000 beloop as hulle beide ore binne twee weke van mekaar af doen.
Die operasies kan nie op dieselfde dag gedoen word nie, aangesien elke oor sowat vier ure onder operasie beteken. Word die ander oor binne twee weke gedoen, word dit as één prosedure gereken.
As die operasies nié binne twee weke van mekaar af gedoen word nie, styg die bedrag na meer as R850 000!
Daar is reeds ‘n trustfonds gestig. Persone wat donasies wil maak, kan dit inbetaal by die: Hear Always Foundation Trust, Standard Bank, rekening nommer 411351605, takkode 012645, ‘Swift’ kode: SBZAZAJJ, verwysing Widja, PVO 930 043 669.
Persone wat meer inligting verlang van die fonds oor Widja se mediese besonderhede, kan me. Deysel bel by 072 235 4626.



