Video: Laerskool Oosterlijn vier 120ste
Dit was met gemengde gevoelens wat ek Saterdag by my ou alma mater, Laerskool Oosterlijn, se hekke ingestap het.

Dié skool in Waterval Boven vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar en ja, ek was daar – vanaf graad een tot standerd vyf (nou graad sewe).
Alles was nog net dieselfde. Dieselfde ou groot bome tussen die rooidak geboue. Dieselfde houtvloere in die saal, moontlik dieselfde blou lap oor die pragtige vleuelklavier en dieselfde houtstoeltjies.
Later, nadat almal saamgekuier en gelag het oor ou staaltjies, stap ek die stoepe deur. In my geestesoog onthou ek nog vir juffrou Bettie Botha.
Die juffrou wat my leesboek die Bybel gemaak het, omdat ek elke keer ons leesboek sommer binne ‘n uur deurgelees het.
En wie sal ooit juffrou Swanepoel se paplepel vergeet, wat seker gemaak het die graad tweetjies ruk nie handuit nie.
Ek kyk deur een van die klasse se vensters. Net daar, in die tweede ry van voor af, het ek gesit en my “tenses” onder die kleinste juffroutjie in die skool, me. Ina Wagner, se wakende oog opgesê. En bewaar jou as jy dit nie geken het nie!
By juffrou Van Wyk se Afrikaanse klas van destyds talm ek ook ‘n oomblik. Daar het ek so in die middel rondgesit. Gehoop sy sal my miskyk as sy vrae begin vra. Want met haar TOD-liniaal in die hand het sy so in die gangetjie afgestap….”die byvoeglike naamwoord vertel jou van die…”en nog voordat jy kan dink aan “selfstandige naamwoord” het daardie einste liniaal ‘n raps op jou arm gemaak.
Ek begin die wysie van Vader Jakob vanself te neurie as ek by mnr. Willie Bernhardt se Zoeloeklas verbystap. Ken vandag nog die Zoeloeliedjie wat hy in die oggende saam met ons op Vader Jakob se wysie gesing het.
My hart word seer toe ek hoor dat mnr. Fred Geyser nie by die reünie is nie. Dieselfde jaar wat ek my kaalvoet laerskooldae klaargemaak het by dié skooltjie, het hy met pensioen gegaan. Die man wat met sy interessante staaltjies en beduiende hande vir my ‘n liefde vir geskiedenis geleer het.
Mnr. Geyser, ek salueer jou.
Ek gaan staan met ‘n knop in my keel by die speelarea. Dáár het ek en Karen Snyman ons toebroodjies gedeel en ‘n vriendskap begin wat ons vandag nog deel, al bly sy in Namibië.
My oë soek rond vir ‘n klasmaat en ek spring amper vir Hermien onderstebo as sy my ook onthou. Dierbare Hermien Havenga (nou Ferreira), wat vandag die Graad R-klassie van Oosterlijn hanteer.
Amanda Botha, wat al 54 jaar op Waterval Boven bly, deel my sentiment vir die dorp en sy skool.
In samewerking met vele ander Boveniete en oud Oosterlijners het sy dié reünie Saterdag gereël.
Oudleerling Bertus Venter het selfs vanaf Tanzanië af gevlieg om die reünie by te woon en daar was ook vele gesigte vanaf Middelburg, Belfast, Nelspruit en sover as Amanzimtoti en Richardsbaai.
‘n Paar het selfs ‘n traan weggevee toe daar ‘n video gewys is van ou skoolfoto’s en die stoomtreine uit Waterval Boven se stal.
Amanda is die voorvegter om die skool weer tot sy ou glorie te herstel. Die dakke het werk nodig en vele algemene herstelwerk moet gedoen word, maar die handjievol leerlinge en die klein gemeenskappie kan nie alles bybring nie.
Volgens Amanda is hul hoofprioriteit nou om ‘n palissade heining vir die skool op te sit om die kinders se veiligheid te veseker.
Persone wat hul projekte wil ondersteun, kan haar bel by 082 803 3722 of stuur epos na amandabotha@xsinet.co.za
• Daar is nog video’s beskikbaar oor die stoomtreine van Waterval Boven en daar word tans ook ‘n video gemaak deur mnr. Rudi Rousseau van die reünie.
• Daar word weer ‘n reünie beplan wanneer die skool 125 jaar oud is. Hiertydens sal al die oud-Boveniete wéér byeenkom om saam fees te vier.















