Local newsNews

Video: Inwoners tot in rooi ‘gerev’

Die rumoer vanaf die Stywe Lyne kroeg maak nabygeleë inwoners die...hoenders in.

“Die rumoer begin op ‘n Vrydag en hou regdeur die naweek aan, partymaal tot 02:00 op ‘n Maandagoggend,” sê Zylie Joubert, een van die bure.

Nog ‘n inwoner, Christo van Schalkwyk, sê dat sy kinders van 10 en 11 Sondagaande tot watter tyd uit die slaap gehou word.

“As dit op enige ander aand as ‘n Sondag gebeur sou ek nie so groot probleem daarmee gehad het nie,” sê mnr. Van Schalkwyk.

Hy sê dat besoekers by die kroeg wat hulle motorfietse en motors opwen, die grootste sondebokke is.

Die geraas begin al op Sondagmiddae en hou dan deur die nag aan.

Volgens mnr.Van Schalkwyk wen party van die motorfietsryers hul motorfietse so erg op dat die motors wat daar geparkeer staan se alarms afgaan van die vibrasie.

Rene Oberholzer sê dat die geraas ‘n “nagmerrie” geword het.

“Ons bly al sedert 2002 hier en dit is die ergste wat dit nog ooit was.

Ons gee nie om dat hulle hier is nie, maar hulle moet ons darem in ag neem.”

Sy vermoed dat dit dieselfde motorfietsryer is wat vir die leeueaandeel van die geraas sorg.

“Ek kan nie meer op Sondagaande na ‘n kerkdiens luister nie, want die ou ref sy motorfiets tot in die hemel in.”

•Die eienaar van Stywe Lyne, Daleen Zwarts, sê dat niemand nog by haar kom kla het nie.

“My nommer staan lewensgroot op die muur. Hoekom het niemand my nog ooit gebel nie?”

Sy sê sy verstaan dat daar mense is wat luidrugtig is as hulle die plek verlaat, maar dat sy nie verantwoordelik gehou kan word vir die publiek se optrede nie.

“Mense wat sê dat dit tot op ‘n Maandagoggend aanhou is besig om blatant te jok.

Ek voel 22:00 op ‘n Sondag is billik.

Die karaoke hou nooit later as dit aan nie.

Wat die mense doen as hulle daar uitstap kan ek ongelukkig nie beheer nie.”

Mev. Zwarts sê dat Stywe Lyne haar brood en botter is, maar dat sy nie daar is om iemand onnodig te benadeel nie.

“Ek probeer my bes om almal in ag te neem.

Ek sal versoek dat daar voor toemaaktyd afgekondig moet word dat mense die perseel rustig moet verlaat, maar dit is omtrent al wat ek kan doen.”

Mev. Zwarts sê dat sy vir 14 jaar die eienaar van Tracers was en dit verkoop het om weg te beweeg van die motorfiets gemeenskap en iets rustigers te doen.

• Kyk en besluit self: Gaan kyk na die video van hoe ‘n motorfiets wat opgewen word, karalarms laat afgaan by www.mobserver.co.za en besluit self aan wie se kant jy is.

•Een inwoner het geen probleem met die geraas gehad nie maar met Spur. “Die reuke wat daar uitkom maak mens honger, jy moet kyk hoe lyk ek van die eet!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

One Comment

  1. Ten spyte van die negatiewe kommentaar het die geraas weer op Vrydagnag 30 Aug voortgegaan. Ek het die eienaar Daleen Zwarts om 01:20 geskakel omdat sy bevestig het sy het nog geen klagtes ontvang nie en toe ‘n klagte ingedien oor die geraas. Sy het my herhaaldelik gekonfronteer en beweer dit is nonsens maar sy was nie naby of op die die perseel nie. ‘n Manspersoon het die foon geneem en my onder die belt uitgeskel en my herhaaldelik ‘n “p” genoem. Ek was ook gedreig met aanranding en so meer.Die foon is toe doodgedruk. Ek stel voor dat die gemeenskap nou moet saamstaan en die saak op ‘n geregtelike basis hanteer. Daar kan nie toegelaat word dat een persoon soveel ongerief kan skep vir ‘n gemeenskap wat ook ‘n reg op orde en stilte het.Ek is ook van mening dat die plaaslike owerheid na beide partye se belange moet omsien.

Back to top button