ANC hoë ry heining in sy maai
'n Kanonkop inwoner sit met minstens R12 000 se skade nadat 'n voormalige ANC burgemeesterskomiteelid deur sy palissadeheining gebars, en in sy oprit tot stilstand gekom het.
Mnr. Piet Wolmarans sê dit het kompleet gelyk of “iemand ingeloer het vir tee,” na die geheimsinnige botsing Sondagmore omstreeks 02:00 op die hoeke van Steve Biko- en Njalastraat.
Naas die skade aan mnr. Wolmarans se heinings, hek en hekmotor, het die bestuurder van die motor, wat nie eens op sy naam geregistreer is nie, ook ‘n Telkom-boks in sy maai gery en Dennesig inwoners letterlik sprakeloos gelaat, omdat hulle landlyne sedertdien af is.
“Telkom het my reeds gekontak om navrae te doen oor wie vir die skade gaan betaal,” sê mnr. Wolmarans, wat sê dat die bestuurder, mnr. Jabo Mayaba, na die botsing vinnig spore gemaak het.

Mnr. Mayaba was ‘n voormalige burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit onder die omstrede me. Manthlakeng Mahlangu.
Hy bly naby die Wolmarans gesin en hy het na die botsing vinnig huistoe geloop, waarna sy vrou en jongste seun gaan verskoning aanbied het.
Hy sê hulle het net na die botsing sonder sukses gepoog om die beskadigde motor by sy erf uit te sleep. Die volgende oggend was die familie terug en is die kar weggesleep.
Die kar is nog op die naam van die vorige eienaar geregistreer.

“Die polisie was Sondagmore hier maar wou nie ‘n klag registreer nie, en het gesê dat hulle met die bestuurder sal praat om die skade te dek,” sê mnr. Wolmarans. Mnr. Mayaba het aggressief reageer op navrae en vir die Observer gesê “om hom nooit weer te bel of met hom te praat nie”.
Hy wou geen kommentaar lewer oor die ongeluk nie, hoewel mnr. Wolmarans sê hy reeds begin het om sy heinings te herstel.
Mnr. Mayaba het vir mnr. Wolmarans gesê dat iemand hom by die stop probeer beroof het.
“Hy vertel dat iemand ‘n baksteen deur sy ruit gegooi en hy toe weggejaag en so die botsing veroorsaak het.”
Telkom sê dat landlyne en internetlyne eers teen Sondag weer aktief sal wees.

Inwoners soos me. Marina Willer het hul frustrasies op Facebook gedeel noudat Dennesig se land- en internetlyne af is.
•Die polisie se kaptein Khanyisile Zwane het bevestig dat geen klag geregistreer is nie.




En so is daar ‘n hele paar dinge in hul kanon(kop) in . . . .