Local newsNews

Hek val op kind

’n Vierjarige dogtertjie is na die hospitaal gehaas, nadat ’n veiligheidshek van Bareki Mall op haar en haar pa geval het.

’n Ontstoke me. Annetjie Pretorius het vertel dat haar dogter, skoonseun en hul kinders, by Bareki Mall se ontvangsarea se hek uitgestap het, oppad huistoe, waarna die hek op haar kleindogter en skoonseun geval het.

Me. Pretorius het gesê dat die sekuriteitswag die hek op ’n skrefie oopgelos het vir haar kinders om eers uit te gaan, voordat hy dit vir die aand sou sluit.

Sy het vertel dat daar nie ’n stopper is om die hek te keer nie en daarom het dit op mnr. Ryno van Wyk en sy dogtertjie, Celeste geval.

Volgens me. Pretorius is hulle nie kwaad vir die wag nie, omdat dit nie sy skuld is dat daar nie ’n stopper is nie.

Mnr. Van Wyk het die krag gekry om die swaar hek op te lig van hom en sy dogter af, waarna hy hulp gaan soek het by Pick ’n Pay.

Volgens me. Pretorius het mnr. Samuel Schmidt (junior) die slag van die hek wat val gehoor, terwyl hy oorkant by die rugbyveld was.

Hy het in sy bakkie geklim en dadelik na hulle toe gejaag vir bystand, waarna hy vir me. Pretorius se dogter, me. Heilie van Wyk gesê het om in die bakkie te klim met Celeste. Mnr. Schmidt het intussen vir me. Van Wyk en haar kinders na Groblersdal Hospitaal geneem vir mediese bystand, terwyl mnr. Ronnie Kusche vir mnr. Van Wyk na die hospitaal geneem het.

By die hospitaal is bevind dat Celeste erge kopbeserings opgedoen het.

Sy het 16 steke voor op haar kop gekry en ’n verdere vier agter op haar kop.

Mnr. Van Wyk het aan die Daller gesê dat alhoewel die swaar hek op hom ook geval het, hy slegs ’n ligte rugbesering opgedoen het.

Mnr. Van Wyk het vertel dat hulle puik diens by die hospitaal ontvang het en dat hulle graag vir dr. Stan Kgoloko wil bedank, sowel as mnre. Schmidt en Kusche vir hulle bystand.

Me. Mandy Atkinson, bestuurderes van Bareki Mall, het aan die Daller gesê, dat sy nooit agter gekom het dat daar nie ’n stopper op die hek was nie en dat sy vreeslik omgekrap is oor die voorval.

Sy het gesê dat die hek Saterdag herstel word en dat sy deur die hele sentrum is om seker te maak dat dit veilig is, sodat daar nie weer soortgelyke voorvalle plaasvind nie.

“Ek is jammer en my hart gaan uit na die familie,” het me. Atkinson gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

One Comment

Back to top button