Chanté verloor kankerstryd
As die hartseer haar wil oorweldig omdat haar negejarige dogtertjie Sondag aan breinkanker gesterf het, is dat haar kind se stem wat sy in haar gedagtes hoor: “Jesus weet wat hy doen.”
Klein Chanté Jacobs het net ’n maand voor haar tiende verjaardag die stryd teen kanker verloor. Haar onwrikbare geloof en positiewe geaardheid sal egter vir altyd in haar ouers se harte voortleef.
“Chanté het ’n geloof gehad wat ander mense se asem sal wegslaan. As dinge vir ons te erg geraak het, het sy net gesê: ‘Hy wat in my woon is groter as hy wat in die wêreld is,” het haar ma, Elizma, Woensdagmiddag gesê.
In Januarie 2013 het die gesin die skoknuus gekry dat Chanté breinkanker het. Intensiewe behandeling met chemoterapie en bestraling het gevolg en die hoop het opgevlam toe dokters in November vir hulle sê dat die siekte in remissie is. Net ’n paar maande later, in Januarie 2014, was die kanker terug. Dié keer in haar rugstring en het dokters die familie meegedeel dat daar niks is wat hulle verder vir haar kan doen nie.
Me. Jacobs het besluit om alles in haar vermoë te doen om haar laaste paar maande so maklik moontlik te maak en ook al haar drome te verwesenlik.
Tydens die jaarlikse KANSA Relay for Life in Maartmaand, het rdl. Rehana Pilodia vir Chanté in haar rolstoel om die veld gestoot.
“Ek onthou hoe sy opgewonde gelag en gedans het in haar rolstoel en gesê het: “Tannie moet laat wielie!”
Tydens die wedloop het rdl. Pilodia ook gehoor dat Chanté graag see toe wil gaan en aan dolfyne wil raak.
Binne etlike dae het sy die vakansie gereël. Op honderde foto’s kan gesien word hoe Chanté die aandag van die dolfyne geniet en hoe sy selfs kans kry om ’n dolfyn te soen.
Hierna het vele borge uit die gemeenskap en die span van Reach For A Dream gesorg dat soveel as moontlik van haar drome bewaarheid word. Op 11 April het sy vir Theuns Jordaan en Juanita du Plessis ontmoet en kort daarna kon sy aan die leeuwelpies vat by Mbidi Lodge.
Al was sy van Februarie af verlam en blind en moes voltyds versorg word deur haar ma en ouma Susan Fourie, het sy elke oomblik wat sy kon, voluit gelééf.
“In die tye wat ons nie meer kon nie, het sy óns ondersteun gesê ons moet net glo. Chanté was ons klein vegtertjie, ’n wondermensie.”
Chanté word oorleef deur haar ouers, Leeuwin en Elizma. Die begrafnis was Donderdagmiddag uit die Familia Dei Kerk.
• “Ons kan net sê dankie vir elke persoon, borg en organisasie wat in hierdie tyd iets vir Chanté en ons beteken het. Ons het nie woorde om ons dank te beskryf nie!”
daleen@mobserver.co.za




Die bybel se, as die laaste vyand gaan die dood tot niet gemmak woor…1 korintie 15 :26.
Dit was my sexy niggie daai ek verlang na Haar die hartseer maak my dood van binne af… Wens ek Kon Haar sien voor sy gegaan het ek is geeerd om Haar in Haar kus totsiens te se …. Syt so rustig en oulik Gelyk…. Ag née hier loop die trane alwee ….. Mis jou my nog